|
Wees gegroet!
Welkom aan alle nuwe
intekenare!
Soos julle hierbo kan sien, is
hierdie uitgawe nommer 99. Nou ek beplan iets spesiaals vir nommer 100
met sommer 'n hele paar pasellas daarby!
Ek ontvang een van daardie artikels
wat op die internet rondswerf geskryf deur 'n sekere Annelie Botes. Ek
wou dit toe hier plaas maar moes haar eers opspoor om toestemming te kry.
Na heelwat gesoek spoor ek haar toe op en sy stem in om vir my van haar
skryfwerk te stuur, net in geval julle dalk nie weet wie Annelie is nie,
hier is hoe sy haarself bekendstel:
Gebore Junie '57
onder die teken van die Kreef op die plaas Grootfontein in die
Kammanassie naby Uniondale. Gedoop, geskool, getroud op Uniondale.
Behaal in '86 'n onderwyslisensiaat in klavier aan Unisa.
Eerste skryfwerk gepubliseer in die destydse Brandwag toe sy 18 was. Ná
jare van stilte begin sy in '94 aktief skryf. Nagenoeg 80 kortverhale
het reeds in tydskrifte verskyn. Sy het 7 boeke gepubliseer - Trippel
Sewe, Ribbokvoete, Klawervier, Trousseaukis, Raaiselkind en Nawelstring.
Klawervier en Raaiselkind het ook verskyn in Engels, Duits en Hollands.
Vanjaar het haar koerantrubrieke in boekvorm verskyn as Broodsonde.
Van nering is sy 'n klavieronderwyseres. Maar van Blackjack, Poker en
Roulette kan jy haar niks vertel nie.
Ek hou nie van CV’s nie, sê sy. Want CV’s teken net die goeie kant van
‘n mens. En dis oneerlik. Ek het baie foute, en ek steek hulle nie weg
nie. Daar is niks omvangryk aan my nie, sê sy. Ek is 'n doodgewone mens
wat skinder en huil en 'n overdraft het. Omdat ek 'n Kreef is, is ek 'n
huismaker by uitstek. My lewensideaal is werklik om ‘n rustige en
versorgende vrou en ma te wees. Maar dit bly my ontwyk. Al in die lewe
waarvoor ek nie kans sien nie, is bergklim en bungee-jumping. Die dinge
wat my die meeste aantrek in die lewe is kerse, reën, die ruising van
die see en om in die middel van die nag wakker te word ná 'n mooi droom.
My grootste afkeure is as iemand dink ek is onnosel, as die bergwind
waai en wanneer my hande taai is.
Eendag wil ek nog na 'n simfonie-orkes in La Scala gaan luister. En
Tibet toe gaan, en kaalvoet in die strate van Jerusalem loop. As ek my
lewe kon oorhê, sal ek net een ding verander: Ek sal báie meer op my
instinkte staatmaak vir visie en oorlewing.
Dis ek. Niks méér as dit nie. Maar ook niks mínder nie.
So, van volgende
uitgawe af kan julle van Annelie se werk geniet!
En dan nog 'n
verrassing, 'n ou bekende en geliefde van ons, Minette, gaan uit haar
hoekie kruip en spesiaal vir nommer 100 'n artikel skryf! Nog iets om na
uit te sien. Julle kan van haar werk
hier gaan lees
Ek het verlede keer nie die
volledige Vic Valle trippie en die fotos gedeel nie, gaan kyk gerus hier:
http://funkymunky.co.za/vic-falls.html (Teks in Engels)
Ons is sopas treug van 'n paar dae
by Ngwenya Lodge geleë aan die suidelike grens van die Kruger Park. Ons
het darem die Groot 5 te siene gekry en 'n hele paar nuwe voëlsoorte
identifiseer, net daardie grondpad na Ngwenya gee my nagmerries! Nou is
ons darem tuis tot net voor Kersfees wat ons in Kruger gaan deurbring.
Bly maar ons gunsteling uithangplek! Kgalagadi en Etosha is kort op
Kruger se hakke!
Estelle de Bruyn, verbonde aan die
Republikein,
die enigste
Afrikaanse dagblad in Namibië skryf nou al 'n rukkie vir ons. Ek het al voorheen van Estelle se
artikels geplaas, so geniet die een ook!
Laat gerus vir Estelle weet dat
julle haar artikel gelees het en wat
julle daarvan dink, sy
hoor graag
van julle! Rêrig!
LEDIGHEID IS DIE DUIWEL SE
OORKUSSING
Estelle de Bruyn
LEDIGHEID, het die oumense hoeka al gesê, is die duiwel se oorkussing,
en daarvan kan ek nou eerstehands getuig.
Wat ’n lui-lekker ledige vakansie in Jan Tuisbly se karretjie moes wees,
ontaard toe in ’n holderstebolder bollemakiesie van aktiwiteit.
Soos beplan het die blaaskansie weggespring met ’n gewerskaf in die tuin.
My kruietuin se grond is goed bemes en voorberei na aanleiding van die
raad wat Johan Wentzel so gaaf was om te gee. Die paadjies in die
kruietuin is in pas met die vrede in my siel en gemoed in die vorm van
’n peace sign uitgelê en die tuintjie is beplant soos die Simon &
Garfunkel liedjie lui met pietersielie, salie, roosmaryn en tiemie en
vele meer.
Soggens met die tweede koppie tee het ek omgestap na die tuintjie en
daar gaan sit en die vrede van die voormiddag ingeadem. Tussendeur het
ek gelees soos ek lanklaas voor tyd gehad het, middagslapies geniet en
nuwe resepte uitgetoets. Tot op ’n dag.
Terwyl ek een oggend in my bedjie lê en die pragtige reënfoto's in
Republikein se spesiale reënbylae bewonder, kyk ek om my rond. My oog
vang die gehawende toestand van die verf teen die kamermure en die
rommel wat oor ses jaar bo-op die hangkas opgegaar het. Tot hier toe en
nie verder nie. Vandag is die dag wat ek die spulletjie vir eens en
altyd vasvat, kom die gedagte by my op.
Ek pluk die skilderye en foto's van die mure af, trek die spykers uit,
gaan koop verf, reël dat Jonas, die wonderlike verwer wat Elsabé
aanbeveel, aanmeld en die wiele is aan die rol.
Soos ant Dina destyds gesê het, die een duiwel roep mos die ander.
Terwyl ons ons nou in die ongerief van 'n gewerkery in die huis begewe,
kan ek net so wel die houtvloer wat ek so lankal in die kamer begeer,
laat insit, dink ek so by myself. So gesê, so gedaan, die kamer word
ontruim en met 'n inkopielysie wat Klippies opstel, sit ek af na die
hardewarewinkel. Saterdag tree die span vloerslaners aan en teen die
aand spog my kamer met 'n lieflike Oregon Pine vloer. Dié moet nog
geskuur en vernis word.
Dis hier waar die volgende blink gedagte my te binne skiet. Terwyl ons
nou gaan stof maak met die skuurdery, kan ek net sowel ook die
houtblokkiesvloer in die sitkamer wat vaal is van baie jare se verweer,
laat skuur. Twee vlieë met een klap. Ons dra al die meubels uit die
sitkamer. Daar is nie 'n vertrek in my huis waar die laaie, kaste,
tafels en toebehore van die slaapkamer en die sitkamer nié gepak is nie.
Ondertussen kap Jonas die krake uit, vul dit op, skuur, pleister en verf
dat die biesies bewe.
Maandag breek helder en mooi aan en ons is reg vir die skuurdery. Helaas,
soos oorle Murphey dit so raak opgesom het: as iets kán verkeerd gaan,
sal dit. In die hele Windhoek is daar op dié een dag van die jaar waarop
ek 'n skuurmasjien nodig het, nie 'n enkele skuurmasjien te huur nie.
Die werk moet met 'n week wag en vir nog 'n ewigheid moet ek die
choatiese wanorde van my onderstebo huis oorleef.
En ek sien hoe sit die duiwel met sy rooi spitsoortjies op die gordynkap
en kwispel sy stert terwyl hy met sy skerp drietand vurk teen die
nuutgeverfte mure tik.
Ledigheid. Dit het jy nou daarvan!
Ou resep
Ek het hierdie nog nie self probeer nie.....
Pofadder
1 vetderm
skaaplewer, in stukkies gesny
knippie sout
12.5 ml peper (1e)
15 ml fyn koljander (2e)
knippie tiemie
12.5 ml Worcestersous (1e)
Dop die vetderm om sodat die
binnekant buite is. Krap dit mooi skoon. Meng al die bestanddele behalwe
die derm met die lewerblokkies. Stop die vetredm met die lewer. Braai
oor die kole.
Dankie, Robert, vir die volgende:
Megajoule poeding
Genoeg vir 10 mense.
1 yskoue blik Idealmelk.
2 x 200gram Cadbury sjokolade.
2 pakke marsmallows.
1 pak tennis beskuit. [opsioneel]
1 flake [opsioneel]
Klits ideal melk tot styf.
Smelt sjokolade en marsmallows. Wenk; gooi bietjie gewone melk by en
breek sjokolade in blokkies.
Gooi by styf geklopte melk. Voeg fyngebreekte tennis beskuit by. Wenk:
kan ook whispers , ens by gooi.
Roer en gooi in groot bak. Sit in yskas en laat stol.
Strooi Flake oor en geniet die mega joules.
Ek het 'n
reisigersforum begin. Enigiemand wat wil gaan rondry of pas teruggekom
het van 'n lekker vakansie kan of 'n vraag vra of van hulle vakansie
vertel,
klik hier
en
gaan lees wat ander alreeds geskryf het.
Klik ook
hier vir GPS koördinate.
Hier is nog een van daai goete
wat op die internet rondswerf, dis glo deur Frik geskryf, wonder of dit
dalkies Frik Lombaard kan wees?
DIE KOEK deur Frik:
As ek so in die tydskrifte sit en
blaai, sien ek dat daar een ding is wat die moderne man die meeste vrees
en dit is toewyding. In Engels klink dit vir my half beter en dit is die
groot C, naamlik Commitment. Maar een van die dinge met ’n lang
geskiedenis wat saamkom is die Troukoek. As julle al ooit gewonder het
wat, hoe en waar die troukoek vandaan kom, is vandag dan julle gelukkige
dag.
Die troukoek het ’n familiegeskiedenis amper langer as Adam se
familiegeskiedenis. Toe die Romeine nog koning gekraai het in die wêreld
het hulle koekies gekrummel en die krummels dan oor die koppe van die
bruid en die bruidegom gegooi. Dit was gedoen as teken dat die bruid
vrugbaar is. Die gaste het dan die krummels opgetel as ’n teken van
goeie geluk.
Dit maak nie saak watter geloof jy is nie, of waar jy in die wêreld is
nie, jy sal altyd êrens op ’n bruilof een of ander koek sien pryk op ’n
tafel. Die koeke het natuurlik begin met klein koekies en later het die
mense vrugtekoeke begin bak as troukoeke. Vir baie jare het die
vrugtekoek koning gekraai as die troukoek. In ons meer moderne en
gejaagde lewe sien ek dat die sponskoek en tot roomyskoeke nou die plek
moet volstaan as ’n troukoek. Vir my is ’n troukoek eintlik nie ’n
troukoek as dit nie ’n vrugtekoek is nie.
In Victoriaanse tye het hulle linte met gelukbringers (charms) tussen
die laag koeke gesit. Elke strooimeisie het dan ’n lint getrek en die
gelukbringer sou dan aantoon wat in hulle lewens gaan gebeur. Die een
wat die ring getrek het sou dan die volgende een wees wat gaan trou het.
Vandag se tyd gooi hulle mos die kousband. Nog een bygeloof is dat jy
die boonste laag van jou troukoek moet bêre en as die troukoek dan
langer as ’n jaar gaan hou, dan gaan jy ’n gelukkige huwelik beleef. Uit
’n man se oogpunt dink ek dat as jou vrou jou nie binne een jaar met die
stuk koek gegooi het nie, is jy vir ’n lang ruk veilig.
Deur die koek saam met haar man te sny toon dan ook aan hoe bereidwillig
die vrou is om haar rol as huisvrou te aanvaar. Dames moet my net nie
nou afslag nie, maar dit is waar.
Ek kan onthou hulle het ook altyd toe ek jonk was gesê dat as jy ’n
stukkie troukoek onder jou kussing sit voor jy gaan slaap sal jy droom
met wie jy eendag gaan trou. Ek het dit ook probeer, maar dit het nooit
met my gewerk nie, want ek was voor ek aan die slaap geraak het, al so
lus vir die stukkie koek, dat ek dit sommer net daar en dan opgeëet het.
In China ontvang die gaste saam met die huweliksuitnodiging ’n stukkie
boontjiepastakoek. Jig. Met die troue ontvang hulle darem ’n stukkie eg
tradisionele westerse troukoek om te eet. In Liberië is dit gebruik om
die troukoek oor die bruidegom se huis te gooi aangesien dit belangrik
is vir die sukses van die huwelik. In die Joodse tradisie word die
troukoek streng volgens die kosher reëls gebak. Al die toerusting en die
tafel waarop die koek staan word geseën. In Duitsland maak hulle
troukoeke van sjokoladekoeke. Maar die koeke is swaar gelaai met
sjokolade en room.
Maak nie saak waar troukoeke vandaan kom nie, dit is altyd pragtig en
lekker. Maar mans, wees gewaarsku, as julle ’n troukoek op ’n tafel sien
staan, dan is dit al klaar te laat en dan is die strop alreeds om julle
nekke.
Ek het hierdie een nog nie self
probeer nie, maar dit klink njammies.. Vir hierdie en nog veel meer soortrgelyke resepte,
kontak vir Anna Eksteen en doen navraag oor haar Pa se Boek
TAMATIE-LAMSVLEIS MET KLUITJIES
POTJIE
45ml olyfolie
1kg lamsnekskywe, 20mm dik
sout en varsgemaalde peper na smaak
3 uie, in skywe gesny
2 knoffelhuisies, fyngedruk
4 tamaties, geskil en gekap
5ml suiker
375ml vleisaftreksel
3 groot aartappels, in kwarte gesny
Plaas 'n gietysterpot oor matige kole. Verhit die olie in die pot en
braai die vleis goudbruin. Voeg geurmidels by. Voeg uie, knoffel,
tamaties, suiker en aftreksel by en prut vir 1½ uur. Voeg aartappels by,
maak toe en prut vir 'n verdere 30 minute. Maak kluitjies soos hieronder
verduidelik, en skep dit bo-op die vleis. Sit deksel op en wag sowat 12
minute. Sit dadelik voor.
KRUIEKLUITJIES
250ml bruismeel
5ml sout
10ml botter
15ml vars of 5ml droë gemengde kruie
1 eier geklits
60ml melk
Sif meel en sout saam. Vryf botter in tot mengsel soos broodkrummels lyk.
Voeg kruie by. Klits melk en eier saam. Meng liggies met meel. Skep
lepels vol bo-op vleis in pot. Moenie die deksel oplig vir ten minste
10-12 minute, terwyl die kluitjies kook nie.
Ek luister mos
een Saterdagoggend na Amore Bekker op RSG waar sy 'n onderhoud voer met
Braham van Zyl. Ek kontak hom toe en is nou op sy poslys, hier volg een
van sy vertellings. Kontak hom gerus en vra om op sy poslys te kom. (Eposdres
onderaan die artikel) Hy beoog om 'n gereelde nubrief uit te stuur.
Suid
Afrikaanse agterpad reisnotas - versamel deur Braham van Zyl
MIDDELPOS - Hantam,
Noord-Kaap Provinsie
Middelpos is nou rêrig tussen nêrens en êrends geleë. Dis ‘n dorp op ‘n
plaas. Die beste van als is dat die hele dorp aan een mens behoort.
Om daar te kom moet jy die R354 grondpad vat. Jy kan dit óf vanaf
Calvinia, óf vanaf Sutherland nader. En as jy baie tyd en moed het, kan
jy dit vanaf die Ceres-Karoo se kant oor die Ganagapas nader.
Die plaas Stinkkuil was een van die eerste plase wat in die Suidelike
Roggeveld streek aan Europese setlaars uitgegee is. Lucas Visagie was
die eienaar. In 1860 het Daniël Tomlinson ‘n deel van die plaas van een
van Visagie se erfgename, Jan Nel gekoop. Hy het ‘n handelspos daar
gevestig en dit Middelpos genoem, want op 80 km was dit net mooi halfpad
tussen Calvinia en Sutherland.
Die Sher familie het Middelpos van Tomlinson gekoop. Die handelspos het
in hulle tyd geleidelik tot ‘n klein dorpie ontwikkel wat die hele
boerderygemaanskap in die veraf geleë wyke van Ceres, Sutherland,
Williston en Calvina bedien het.
Kobus van der Westhuizen is vandag die eienaar van hierdie dorpie. Sy
skoonma, tannie Mattie Wright, is in beheer van die hotel met sy agt
kamers. Sy sê sy kook die heerlikste boerekos. Sy en haar man het
Middelpos in 1980 gekoop. Hulle het voor dit die Golden Egg
kitsrestaurant langs die N1 by Laingsburg gehad.
Volgens Tannie Mattie is Middelpos ‘n lewendige “dorpie”. Daar is ‘n
skool, ‘n polisiestasie, ‘n tronk, die hotel, ‘n winkel, ‘n garage en
ook ‘n poskantoor.
Stedelinge kom selfs daarheen om konferensies te kom hou. Hulle gebruik
die DKW saal daarvoor, synde ‘n saal vir Dans, Kerk en Werk te wees. Dit
lyk asof Middelpos net die plek is om ver weg te kom van die stadsgewoel,
sonder om te afgesonder te voel.
‘n Websoektog op www.google.co.za toon dat daar ook sommer ‘n hele
aantal gasteblyplekke in daardie geweste is. Kontak Middelpos se mense
by 027 341-2507.
Deur: deur Braham van Zyl
Posbus 1259, Durbanville, 7551
Faks 021-975-4466
Sel 082-457-0019
Skryf vir Braham
en vra om op sy poslys geplaas te word en ontvang sy reisbeskrywings
direk van hom af!
e-pos : info@explore-sa.com
Luister elke Saterdagoggend
net na die agtuur nuus op die Afrikaanse radiodiens van RSG na Braham
van Zyl en Amore Bekker se agterpad geselsies op die program Brêkvis
met Bekker.
Laat
jou wildste drome waar word, kry 'n kaartjie in die UK Lottery,
klik net hier
Die boerpot is gereeld om en by £11 miljoen, (
R140,000,000), sjoe, dis darem maar baie nulle!!
Peterjasie se Groot Afrikaanse Rate- en Resepte Versameling
Die
ideale geskenk en versamelstuk
Ek
het besluit om al my belangrikste eBoeke saam op een CD te sit om dit
makliker te maak om te versprei. Die CD bevat:
Tradisionele Suid Afrikaanse Resepte wat op my webwerf is
Suid Afrikaanse Boererate (naastenby 2000)
Kampkosresepte
Wille Samies (honderde idees vir toebroodjies, oopbroodjies en jaffels
Koste per CD is R100 posgeld in SA ingesluit. (R130 as ek dit per
Fastmail stuur) Dit maak 'n ideale geskenk, en ek sal die ontvanger se
naam op die CD etiket sit, bv. Aan Johan van die Smit gesin.
Klik hier
vir
betalingsbesonderhede
Nog 'n OU resep:
Hierdie klink na 'n bak idee, limonade in poeier vorm.
Lemonade Poeier
4 lb gestampte wit suiker,
1 ons citric acid of tartaric acid, telepel fol limoen oli. Meng alles
mooi droog, 3 gelyke telepels fer 'n glas water.
ePos Vriende - In die ou dae voor die internet het ek vele
penvriende regoor die aardbol gehad. Jy moes weke wag vir 'n antwoord op
jou brief! Vandag, met ePos gaan dinge sommer blitsvinnig! Mens moet
egter in baie gevalle betaal om jou naam op 'n penvriend lys te kry. Ek
glo nie daarin om vir vriendskap te betaal nie, dus gaan ek 'n gratis "ePos
Vriende" afdeling begin. Al wat jy hoef te doen om jou gegewens op die
lys te kry is om
HIER te klik en jou besonderhede in te tik. As jy soek na 'n
vriend, klik
HIER en gaan deur die lys en stuur 'n epos aan iemand met wie
jy wil korrespondeer,
so maklik soos dit!
st
se pitkos
Klik hier
om st
se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief
“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens
vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.
Nog
gevleuelde woorde van ST:
Fokus op een deug
Wanneer ‘n mens by ‘n boekwinkel soos CNA of Exclusive Books instap is
daar letterlik talle boeke op die rakke wat oor motivering, inspirasie
en sukses gaan. Dink maar aan boeke soos “The Power of Positive
Thinking” deur Norman Vincent Peale en “It’s Time for your Comeback”
deur Tim Storey om maar net twee te noem.
Nou is my vraag: Hoekom gaan dit steeds so ellendig met der duisende
mense wanneer motiveringsboeke – waarvan talle topverkopers – beskikbaar
is?
Is die fout by die inhoud van die boeke? Nee, ek glo nie dis die geval
nie. Sekerlik is daar boeke wat beter is as ander. En sekere boeke sal
sekerlik meer by jou waardes, norms en agtergrond aanklank vind, maar ek
dink daar is twee belangrike redes vir die antwoord op my vraag.
Die eerste rede is dat hoewel die boeke en inligting beskikbaar is, lees
mense nie die boeke nie. Ek dink der duisende mense lees eenvoudig nie
genoeg nie, en wanneer hulle lees, lees hulle boeke wat nie veel waarde
vir hul menswees en rigting vir hul lewe het nie. Sommige mense verkies
om voor die televisie te lê waar hulle met die minste inspanning vermaak
kan word – dikwels met gemors wat weining sin en waarde bied.
‘n Tweede rede is mense lees ‘n boek wat hul inspireer, maar weet dan
nie waar om te begin om hul lewe positief te verander nie. So hulle lees
een motiveringsboek na die ander, maar dis asof daar nie betekenisvolle
aksiestappe en groei plaasvind nie. Ek dink mense word soms oorweldig
deur te veel kennis op een oomblik, te veel idees en oormaat raad en
instruksies om te volg.
Ons moet leer om op een aspek te konsentreer en dit enduit te volvoer.
Ek het een keer gelees dat Benjamin Franklin ‘n lys van 13 eienskappe /
deugde neergeskryf het wat hy waardevol ag, maar waaroor hy nie oor
beskik het nie. Wat Franklin gedoen het was slegs om aan een eienskap op
‘n keer te werk totdat hy dit bemeester het. Al het hy nie aanvanklik
daarin geslaag om die een eienskap dadelik reg te kry nie hou hy egter
vol tot hy suksesvol was om dit onder die knie te kry. Hy het gefokus om
slegs daardie een eienskap sy eie te maak, en homself nie oor die ander
12 bekommer nie. Uiteindelik het hy daarin geslaag om al 13 eienskappe
te wen en te baas te raak. Benjamin Franklin het ‘n groot staatsman,
skrywer en wetenskaplike geword. Hy het ‘n leiersrol vervul in die VSA
se strewe na onafhanklikheid. Ook was hy uitvinder van vele uitvindings,
onder andere bifokale brille en die weerligafleier.
Onthou jy nog hoe werk die skoolsisteem. Jy moet eers die werk van een
standerd bemeester, eksamen daaroor skryf en dit slaag voordat jy na die
volgende standerd bevorder word. Jy kan nie dadelik matriek gaan skryf
nie – die leer van sukses word trappie vir trappie geklim.
So ek wil voorstel dat jy ophou rondspring van een ding na die ander,
van een aktiwiteit na die ander. Identifiseer een eienskap of
vaardigheid wat jy graag wil bemeester. Fokus daarop met al jou energie,
gedagtes en tyd totdat jy dit suksesvol jou eie gemaak het. En dan pak
jy die volgende deug, vaardigheid of taak aan.
‘n Sprankie wysheid vir die dag
“God lei ons nie deur die bekendmaking van omvattende bloudrukke vir ons
lewe nie, maar deur ons stadig stappie vir stappie vorentoe te laat
beweeg. Ons kan nie meer getrou aan onsself wees as om ons voluit tot
hierdie proses te verbind, en met al die emosionele veranderinge wat dit
meebring nie.” - M. Blaine Smith
Dr ST Potgieter
Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos:
st@pitkos.co.za
|
|