|
Wees gegroet!
Welkom aan alle nuwe
intekenare!
Ons het gister
Kerkbasaar gehou en ek koop toe by die Laat-Oes stalletjie vir my 'n
twee-liter bottel gemmerbier! Vanoggend maak ek dit oop en daar gaat hy,
een groot gemmerbierfontein en alles is nat en taai! Van die twee liter
bly so 2 cm in die bottel oor. Sjoe maar daardie mlaaste 2 cm slaat
amper my asem weg!! Wenk: As jy gemmerbier by 'n kerkbasaar koop,
hou dit in 'n koel plek, nie in jou voertuig nie, en maak dit STADIG,
buite oop!!
Hierdie is die
laaste Patriot vir 'n rukkie, as ons planne uitwerk gaan ons vir net
meer as twee weke na Vic Valle in Zim toe. Sodra ek terugkom deel ek hopelik
mooi fotos en die verhaal van die reis met julle. Ons ry deur
Botswana en gaan bo by Zim oor die grens.
Ek het 'n webbladsy
gemaak wat maklik met 'n selfoon beloer kan word, dis net 'n bietjie
teks so sal maklik aflaai, gaan kyk gerus, ek het dit opdateer:
http://funkymunky.co.za/sel.html
Nog 'n Suidwes nooi
skryf vir ons! Estelle de Bruyn is ook verbonde aan die
Republikein, die enigste
Afrikaanse dagblad in Namibië. Ek het al voorheen van Estelle se
artikels geplaas, so geniet die een ook! Laat gerus vir Estelle weet dat
julle haar artikel gelees het en wat
julle daarvan dink, sy
hoor graag van julle! Rêrig!
Huishoudkunde
Estelle de Bruyn
HET kinders op skool ooit nog huishoudkunde, wonder ons nou die dag. En
met dié wonder kom ’n vlaag herinneringe aan ons ouergarde se geknoei en
gebrou in die huishoudkundeklas na vore.
Wilma onthou die baba-booties wat sy moes brei wat op die ou end so
groot was dat dit maklik vir ’n uitgegroeide Gobabisboer met gips aan sy
voet, sou pas. Ronelle vertel hoe sy haar Ouma gepamperlang het om haar
naaldwerkies vir haar te doen en dat sy dan altyd baie goeie punte vir
Ouma kon huis toe bring.
My eie herinneringe aan die huishoudkundeklas wil ek baie diep onder die
spreekwoordelike maatemmer verberg, maar ek kan ook nie anders as om te
giggel by die blote gedagte van die ligbou babatruitjie wat ek in
Standerd 7 moes brei nie.
My ma moes die steke opsit. Na die steke opgesit is, het die breipenne,
die wol en die breipatroon in my naaldwerkkassie (so ’n oorgetrekte
skoenboks) bly lê. Daagliks het my ma gevra hoe vorder ek met die
truitjie want die tyd raak min. Daagliks het ek verduidelik dat ek (a)
baie huiswerk het en nie by die breiery kan uitkom nie; (b) netbal,
tennis, swem, klavierlesse gehad het en nie tyd gehad vir ’n breiery nie;
(c) my hande was vuil want ek het in die tuin gewerk en wou nie die
breiwerk vuil maak nie en ’n velerlei ander verskonings vir die
ongebreide baadjie.
My lankmoedige moeder (sy gaan eendag reguit hemel toe) het toe maar
stilletjies begin brei aan die truitjie en toe ek eendag uit noodweer
die naaldwerk-skoenboks oopmaak was die truitjie al ’n hele end gebrei,
tot my eindelose verligting en vreugde.
My ma het my toe op die bank in die sitkamer laat sit, langs my
ingeskuif en gesê ek moet ten minste net die patroon deurbrei, met ander
woorde vier rytjies, sodat as die juffrou my vra, ek darem kan wys hoe
dit gedoen word. En daar op die sitkamerbank het ek gesit. Brei, lostrek,
brei, lostrek, brei, lostrek, vir ’n hele middag. Uiteindelik was die
vier rytjies klaar en my ma het met ’n sug van verligting die spulletjie
uit my lompe hande gevat en die trui klaargebrei.
Toe die truitjie aanmekaargewerk is, was die bewyse van daardie middag
se gebrei op die sitkamerbank al te duidelik. ’n Vier ry breë bruin
strook van al die brei en lostrek en weer brei, het die andersins
poeierblou uitrustingkie ontsier.
Ai, en dan was daar die kookkunde klas, waar ons standerd sessies moes
leer witsous maak en skons bak. Terwyl my klasmaats sulke opgepofte
heerlike goue bruin skons uit die oond gehaal het, was myne so plat soos
pannekoeke en my witsous vol klonte. Genadiglik tree geheuverlies hier
in en kan ek nie eers die ander rampe wat my daar in die
huishoudekundeklas getref het, onthou nie.
Met die jare het ek darem geleer brei en geniet dit nogal om voor die
stoof in te skuif en die een en ander te kook, maar die spook van die
huishoudkundeklas het nou die aand weer geloop. 'n Skielike lus vir
skons oorval my uit die bloute. Met die selfvertroue van amper 50 jaar
se lewensondervinding en die wete dat ek slim genoeg is om ten minste ’n
resepteboek te lees en die regte mate te neem, gryp ek my Kook en Geniet
en kry die bestandele bymekaar. Ek timmer daar ’n skon-degie aanmekaar,
druk dit in mooi ronde vormies uit en pak dit op die bakplaat. Terwyl
die skons in die oond bak, maak ek tee, haal die konfyt en botter uit en
lek my lippe behoorlik af vir die smullery.
Helaas, toe ek die oond oopmaak, lê die bakplaat vol identiese standerd
6 platanna-skons.
As ek vandag witsous vir ’n blomkool en broccoli gereg wil hê, bel ek my
buurvrou, Elsabé, en vra dat sy dit maak. En as ek lus is vir skons,
bestel ek dit by ’n restaurant.
Potch bly Potch -
teken die petisie
Hou jy daarvan
om te skryf? Wil jy jou werk publiseer? Dis makliker as wat jy dink!
Begin deur jou werk in eBoekformaat te publiseer en dan oor die internet
te verkoop. Die koste is absoluut minimaal en biljoene mense wêreldwyd
het toegang tot jou werk. Stuur net jou skepping in en sit terug, alles
word vir jou gedoen!
Klik
hier vir meer besonderhede!
Ek het 'n
reisigersforum begin. Enigiemand wat wil gaan rondry of pas teruggekom
het van 'n lekker vakansie kan of 'n vraag vra of van hulle vakansie
vertel,
klik hier en
gaan lees wat ander alreeds geskryf het.
As jy ooit so
gelukkig is om vlakvarkvleis in die hande te kry, hier is wat jy met dit
doen. Vir hierdie en nog veel meer soortrgelyke resepte,
kontak vir Anna Eksteen en doe navraag oor haar Pa se Boek
VLAKVARKBOUDJIE
1 vlakvarkboudjie
12.5ml Knoffel-en-kruie-geurmiddel
5ml fyn naeltjies
25ml groente-aftrekselpo
5ml fyn gemmer
swartpeper
2 pakkies (250 g elk) streepspek
Meng al die smaakmiddels. Rol spekrepies in geurmiddels en lardeer
boudjie.
MARINADE:
200ml appelsap nartjieskil
100ml Coke marmelade
Plaas die boud in die appelsap en marineer 24 uur lank in die yskas.
Draai gereeld om. Druk nou eers die stukkies nartjieskil in spekgaatjies
in die boud. Plaas boud en appelsap in 'n swaarboomkastrol en voeg Coke
by. Sit deksel op en bak sowat 4 uur stadig by 160C tot sag en gaar,
afhangende van die grootte van die boud. Bedruip nou en dan met marinade
tot mooi bruin. Smeer marmelade oor en sit terug in oond sonder die
deksel. Verhoog die temperatuur tot 200C en bak die laaste 20-30 minute
sonder deksel om die boud mooi te verbruin. Pasop egter vir verbrand.
VARIASIE:
Springbok of blesbokboudjie:
Berei soos hierbo, maar gebruik suurlemoen-en-kruie-bedruipsous pleks
van appelsap.
Ek luister mos
een Saterdagoggend na Amore Bekker op RSG waar sy 'n onderhoud voer met
Braham van Zyl. Ek kontak hom toe en is nou op sy poslys, hier volg een
van sy vertellings. Kontak hom gerus en vra om op sy poslys te kom. (Eposdres
onderaan die artikel) Hy beoog om 'n gereelde nubrief uit te stuur.
Suid
Afrikaanse agterpad reisnotas - versamel deur Braham van Zyl
TOORWATERPOORT, in die Uniondale / De Rust omgewing 6 Sept 06
My en Amore se Toorwaterpoort geselsie van 28 Januarie 2006 het die
grootste luisteraarsreaksie tot dusver uitgelok. Dennis Carol van
Plettenbergbaai en Emma van der Hoven van Alberton het aanvanklik
geskryf om te vra waar hierdie plek is.
Toorwaterpoort is ‘n diep poort wat tussen Vondeling in die Groot Karoo
en Toorwater in die Klein Karoo deur die Groot Swartberg breek. Die
treinspoor tussen Port Elizabeth en George loop deur die poort.
Reisigers op die R341 tussen De Rust en Uniondale sal digby die Barandas
stasie die Toorwater padbord sien staan. Hulle kan vandaar met ‘n
grondpad al teen die Swartberg se voet langs ry, tot by die N9 tussen
Uniondale en Willowmore.
Toorwaterpoort is baie gewild by stoomtreinaanhangers, wie graag foto’s
en vidios van hierdie ou ysterreuse in die poort gaan neem. Dis ook ‘n
gewilde stilhouplek vir alle toeristetreine op daardie roete. Katinka
Heyns het ook haar rolprent, Paljas, daar op Toorwaterstasie verfilm.
Daar is ook ‘n warmwaterbron met die naam van Toorwater ooswaarts digby
die poort. Die plaas waarop die warmbron is, se naam was aanvanklik
Nietgenaamd.
Gert Barnardt van George het die Saterdag kort na die programuitsending
gebel en vertel dat die Barnardts reeds jare daar by die poort se bek
boer. Ek het ‘n aantal jare gelede hoeka daar by sy oorlede broer Naas
gekuier toe ek na Toorwaterpoort gaan soek het.
Andries van Greunen van Moreletaplaza het ‘n lang e-pos met hope
inligting oor sy kinderjare as spoorwegkind op Toorwaterstasie gestuur.
Hy vertel dat die naam aanvanklik Towerwater was, en nie Toorwater nie.
Zelda van Heerden van Willowmore het laat weet dat die naam van die plek
kom van moerasgas wat vroeër jare by die warmbron opgebou het en dan met
‘n vlam ontbrand het, wat die plek aan toordery gekoppel het.
Chris Jonker van Kuilsrivier was in die 1960’s stasiemeester op die
nabygeleë Barandas stasie. Hy vertel dat daar vroeër jare snags ‘n rooi
gloed bokant die warmbron gehang het, vandaar dan die naam Toorwater.
Shirley Sonnenberger van Kwelera het laat weet dat die naam van
Toorwater CUIGHAKAMMA in die KHOEKHOEN taal is, en verwys na ‘n
gebeurtenis waar ‘n man in ‘n maalkolk in die Trakariver, wat deur die
poort vloei, ingetrek is.
Deur: deur Braham van Zyl
Posbus 1259, Durbanville, 7551
Faks 021-975-4466
Sel 082-457-0019
Skryf vir Braham
en vra om op sy poslys geplaas te word en ontvang sy reisbeskrywings
direk van hom af!
e-pos : info@explore-sa.com
Laat
jou wildste drome waar word, kry 'n kaartjie in die UK Lottery,
klik net hier
Die boerpot is gereeld om en by £11 miljoen, (
R140,000,000), sjoe, dis darem maar baie nulle!!
Peterjasie se Groot Afrikaanse Rate- en Resepte Versameling
Die
ideale geskenk en versamelstuk
Ek
het besluit om al my belangrikste eBoeke saam op een CD te sit om dit
makliker te maak om te versprei. Die CD bevat:
Tradisionele Suid Afrikaanse Resepte wat op my webwerf is
Suid Afrikaanse Boererate (naastenby 2000)
Kampkosresepte
Wille Samies (honderde idees vir toebroodjies, oopbroodjies en jaffels
Koste per CD is R95 posgeld in SA ingesluit. (R100 as ek dit per
Fastmail stuur) Dit maak 'n ideale geskenk, en ek sal die ontvanger se
naam op die CD etiket sit, bv. Aan Johan van die Smit gesin.
Klik hier vir
betalingsbesonderhede
Rooibostee en
Groentee is deesdae die IN drankies, hier is 'n artikel deur Lompies
Lombaard:
Groen Tee
So ’n week of wat gelede het ek geskryf waar kom tee vandaan. In daardie
artikel het ek genoem dat daar drie soorte tee is en een van daardie
soorte tee is groen tee. Die oorsprong en ontstaan van groen tee is
dieselfde as wat dit is vir normale tee. Dit begin met die Sjinese
heerser en sy warm water. Na hy die eerste keer tee gedrink het, het hy
begin eksperimenteer met ander soorte tee en so toe ook afgekom op groen
tee.
Groen tee se kwaliteite is baie besing in die Ooste, en met agterdog
bejeën. Na baie navorsing en studies het die groen tee ook begin baklei
vir sy plekkie in die westerse son. Maar wat is die verskil tussen groen
en swart tee ? Dit is net die manier wat die tee verwerk word. Die swart
tee blare word eers vir ’n lang tydperk blootgestel aan lug en dan begin
hulle met die prosessering van die tee.
Met groen tee begin hulle onmiddellik met die prosessering. Eers word
die blare gestoom en dan gebak. Die metode verseker dat die polyphenol
behoue bly. Dit is nou een groot woord daardie. Klink vir my amper soos
mampoer se klein boetie. Maar dit is net die naam van ’n groep plant
chemikalieë wat anti oksidante bevat. Soos ons almal weet is anti
oksidante die inding deesdae.
Sonder om woorde te gebruik wat ek nie verstaan nie, sal ek volstaan by
die feit dat anti oksidante die liggam vry maak van die elemente wat die
liggaam skade aandoen. Die elemente is grootliks verantwoordelik vir
sekere kankers. So deur slegs jou daaglikse inname van koffie en tee te
vervang met groen is baie goed vir jou liggaam en gesondheid. Begin met
een koppie per dag en verhoog dit stelsel matig.
Daar is drie verskillende soorte maniere maak van groen tee en elke een
het sy eie identiteit en smaak. Dit kom meer voor in die oosterse nasies.
Vir ons Westerlinge word die tee gegeur met verskillende soorte vrugte
smake. Soos wat ek in my tee artikel beskryf het hoe tee “properly”
gemaak moet word, het groen tee sy eie manier van maak, volgens die
kenners. Jy maak defnetief nie groen tee soos swart tee nie, want dan
gaan die smaak van die tee jou vir ewig afsit.
Hier is nou groen tee se ideale maak metode. Kook die water en laat
eenkant staan vir sowat twee minute. As jy die kookwater direk oor die
tee gooi, gaan die tee baie bitter smaak. Laat die tee nou trek vir twee
of drie minute. Haal die tee uit en laat die tee vir nog ’n minuut staan.
Nou kan jy die tee so ’n bietjie versoet met heuning of dalk so ’n
korreltjie of twee suiker. Moet asb nie melk bygooi nie, want melk gaan
die delikate smaak van die tee bederf.
Noudat groen tee aanvaar is deur die westerlinge word daar goed met die
tee ge-eksperimenteer. Mens kry nou tot groen tee kaaskoek en groen tee
roomys. Wat volgende? Net een waarskuwing indien mens die gegeurde groen
tee koop moet mens net seker maak dat dit suiwer groen tee is en nie ’n
vermenging van swart en groen tee is nie. As dit ’n vermenging is dan
soos die Engelse sal sê “It defeats the object”.
As ek so kyk na groen tee en wat dit vir jou kan doen, wil ek net noem
dat ons nie onsself moet skaam vir ons rooibos tee nie. Rooibostee is
volgens my mening baie meer gesond as wat groen tee is. Maak nie saak
nie. Rooi, groen of swart gun maar elkeen sy plekkie in die son. Drink
wat jy geniet.
Dankie, Judi, vir
die een:
Rasper 1 suurlemoen se skil en druk daarna die sap van die suurlemoen
uit. Meng beide skil & sap saam met 'n potjie aqueous cream. Dis dien as
'n "facial scrub", "cleanser" en "moisturiser" en werk so goed soos
ander duur gesigrome!
ePos Vriende - In die ou dae voor die internet het ek vele
penvriende regoor die aardbol gehad. Jy moes weke wag vir 'n antwoord op
jou brief! Vandag, met ePos gaan dinge sommer blitsvinnig! Mens moet
egter in baie gevalle betaal om jou naam op 'n penvriend lys te kry. Ek
glo nie daarin om vir vriendskap te betaal nie, dus gaan ek 'n gratis "ePos
Vriende" afdeling begin. Al wat jy hoef te doen om jou gegewens op die
lys te kry is om
HIER te klik en jou besonderhede in te tik. As jy soek na 'n
vriend, klik
HIER en gaan deur die lys en stuur 'n epos aan iemand met wie
jy wil korrespondeer,
so maklik soos dit!
st
se pitkos
Klik hier om st
se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief
“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens
vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.
Nog
gevleuelde woorde van ST:
Perspektief – die groter prentjie
Dit is goed om doelwitte en drome vir jou lewe te stel. Sonder dit is
daar nie werklik rigting nie. Om te leef sonder doelwitte is gewoon ‘n
vermorsing van jou lewenstyd.
Selfs in die Bybel word dit verwoord deur die gelykenis van die talente.
Oor hierdie aspek van doelwitte en drome het ek reeds heelwat geskryf en
in diepte bespreek. En dit is goed en reg dat ons daaroor gesels, maar
daar is ook ‘n groter prentjie vir ‘n mens se lewe wat jy in aanmerking
moet neem.
Want in die onmeetlike grootheid van die uitspansel en in die
onverstaanbaarheid van ‘n tydlose tyd wat duur van ewigheid tot ewigheid,
is aan ons ‘n besondere moment verleen. En dit is om in hierdie mikro
fraksie van ewigheidstyd te kan leef op ‘n kleine spikkeltjie planeet in
‘n ongelooflike groot heelal.
Net vir ‘n kort stonde is ons hier, want ons is eintlik maar net
reisigers op pad na ‘n ander bestemming. Vir ‘n wyle vertoef ons hier op
planeet aarde en is ons lewe maar ‘n skadu wat oor die velde beweeg en
dan is ons nie meer daar nie. Wanneer jy dus te gefokus raak op die hier
en die nou, op verbygaande materiële dinge verloor jy die groter
perspektief.
Jy leef eers werklik sinvol wanneer jou oog gevestig is op ‘n droom en
doelwit wat verby die graf strek. Daarom behoort jou aardse drome en
doelwitte ingekleur te word deur die groter droom van dit wat sin en
betekenis aan jou bestaan gee.
In die groter perspektief is daar sekere sake wat vir my belangrik is.
Twee van hierdie sake is Genade en die Hemel.
Genade: Dit is vir my ‘n ongelooflike stuk genade dat ek lewe. Wat ‘n
absolute voorreg om wakker te word en te weet nog ‘n dag is aan my
geskenk. Ek besef dat alles wat ek is en het, is net genade. Met al my
foute en mislukkings en sonde weet ek die Here se genade is vir my
genoeg. Ek moet dus in volle dankbaarheid elke dag lewe.
Die Hemel: Een saak waarna ek reik en dit is om in die hemel te kom. Wat
baat dit my watter kar ek ry, in watter huis ek woon, hoe my bankbalans
lyk, en ek beland nie in die hemel nie. Hoekom vir ‘n tydjie op aarde in
luuksheid leef, maar jy stuur af op ‘n ramp om jou ewigheid op ‘n hoogs
onaangename plek deur te bring. Die grootste en lekkerste avontuur en
mees wonderlikste huisvesting lê nog voor wat vir altyd en altyd sal
duur. Kry dus perspektief waarheen jy met jou lewe gaan.
Kortom: Die groter prentjie – die werklike eindbestemming wat jy wil
bereik – is die droom wat werklik saak maak. Deur te klou aan aardse
goedjies mag maak dat jy dalk die grootste prys waarvoor jy geskape is,
misloop.
My wense en gebede is dat jou lewe betekenisvol gefokus sal wees.
‘n Sprankie wysheid vir die dag
“Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê en in Hom glo wat My
gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het
reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.” – Johannes 5:24
Dr ST Potgieter
Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos:
st@pitkos.co.za
|
|