|
Wees gegroet!
Welkom aan alle nuwe
intekenare!
Ek wil 'n afdeling
op my webwerf begin oor saffies wat nou oorsee woon en hulle eie
besigheid het waar hulle Suid-Afrikaanse kos en goedere verkoop. Ek soek
fotos en 'n kort artikel. As jy in die kategorie val,
stuur my epos en kom ons praat!
Nog 'n Suidwes nooi
skryf vir ons! Estelle de Bruyn is ook verbonde aan die
Republikein, die enigste
Afrikaanse dagblad in Namibië. Ek het al voorheen van Estelle se
artikels geplaas, so geniet die een ook! Laat gerus vir Estelle weet wat
julle daarvan dink, sy
hoor graag van julle!
Ek sien Estelle voel
net soos ek oor mense wat nie suiwer Afrikaans praat nie, veral op TV en
oor die radio. Veral aanbieders van popmusiek-programme dink dit is
"cool" om soveel Engelse woorde as moontlik by te voeg. Vriende van my
weier selfs al om na RSG te luister. Komaan, ouens, hou ons taal suiwer!
Vol punte aan
Chris Chameleon wat in 'n onderhoud op KYKnet net suiwer Afrikaans
gepraat het.
AFRIKAANSE IDOLE
Estelle de Bruyn
KAN die mense in Suid-Afrika nie meer Afrikaans praat nie of wat is die
moeilikheid?
Sondagmiddag met KykNet se Afrikaanse Idols-aanbieding, het my mond
behoorlik oopgehang en my ore wou nie glo wat hulle hoor nie.
Dit kon net so wel ’n Engelse program gewees het en moenie my probeer
oortuig dat dit "cool" is om so ’n geradbraakte mengelmoestaal te praat
nie, want dit is nie.
Toe Tracy-Lee aan die beurt kom, het ek my notaboek gegryp en begin
aantekeninge maak. Sy is onder meer deur die beoordelaars beskryf as
"well deserved", "fine", "great", "beautiful", sy is vertel "practice
makes perfect", dat sy uit haar "comfort zone" moet beweeg as sy
"perform" en dat die "judges" "no doubts" oor haar vermoëns het nie en
dit inderdaad "enjoy" het terwyl hulle haar bedank het vir "a great
time".
Kevin moes van die beoordelaars hoor: "Ek was 'like' 'nervous', 'I mean'
oor jy dit 'totally' gemis het." Dit was vir hulle "hectic" dat die
"underdog" so gesing het, maar dat hulle bekommerd was oor die "flat
notes" in die "song" se "melody" en daarom was hy maar net "borderline"
en nie "up to" die liedjie nie. Hy is gewaarsku om nie sy "career" te
"fake". Mynie het die liedjie as ’n wroeg-"song" beskryf, het probleme
met sy "pitching" gehad, maar hom nietemin " good luck" toegewens met
die ander "contestants." Tog was die liedjie vir haar "viby" en "jivy".
Later in die program is van die "raw passion" gepraat wat "ultimately"
"all right" oorgekom het. Vir ’n ander beoordelaar was die deelnemer se
stem ’n "weapon of mass destruction" met die "limited range" wat sou
meebring dat sy kortstondige loopbaan in die kalklig "dead in a second"
sou wees en dat hy nie ’n kans staan om die "hand held" mikrofoon, wat
een van die pryse is, in te oes nie.
Daar en dan het ek my notaboek vererg toegeklap en van TV-kanaal
verander.
Dit is regtig nie snaaks nie en erg-erg irriterend. My ma het my geleer
en ek het my kinders geleer dat jy een taal op ’n slag praat, na die
beste van jou vermoë. Ek is lief vir Engels en vir Afrikaans, maar elk
op sy eie tyd en nie deurmekaar geklits soos ’n mengeldrankie nie.
Ek dink nie ek is outyds en konserwatief of ’n vreeslike oor die kop
geslaande taalkampvegter en puris nie. Ek hou van nuwe skeppende woorde
waarmee Afrikaansprekendes vorendag kom soos "kletterpet" en "branderponie".
In Pharos se woordeboek Pharos New Words and previously overlooked ones/Nuwe
Woorde en oues wat in die slag gebly het is daar heerlike eietydse
skeppings wat my hoendervleis teen die rug af gee van lekkerte. Neem
byvoorbeeld ’n "hacker" wat in Afrikaans ’n rekenaarinbreker of
rekenaarterroris word; ’n "couch potato" wat as ’n kassiekneg, ’n
stoelpatat of ’n sofapokkel vertaal; "dreadlocks" wat rastalokke heet; "duffelbag"
wat ’n buissak genoem word en ’n "pop-up menu" wat as opwipkieslys
vertaal. "Kick boxing" is skopboks; ’n "pie chart" is ’n sektordiagram
en ’n "pinball" is ’n spykerbal.
Is dit dan nie te mooi vir woorde nie!
Die beoordelaars van Afrikaanse Idols het seker die reg om die
deelnemers te komplimenteer of te beledig, maar van my af kry hulle voor
die voet ’n ronde nulletjie vir hul taalgebruik. Ag nee sies man, ek
luister eerder na die valsste sanger as na jul sogenaamde Afrikaans.
Stuur nou asseblief
vir Estelle
'n epos en laaat weet haar of julle met haar saamstem of nie?
Hou jy daarvan
om te skryf? Wil jy jou werk publiseer? Dis makliker as wat jy dink!
Begin deur jou werk in eBoekformaat te publiseer en dan oor die internet
te verkoop. Die koste is absoluut minimaal en biljoene mense wêreldwyd
het toegang tot jou werk. Stuur net jou skepping in en sit terug, alles
word vir jou gedoen!
Klik
hier vir meer besonderhede!
Alt in die
hemelkoor
deur
© Corlietha Swart
Haar oë was groot en kinderlik-onskuldig met net ’n sweempie van die
ondraaglike pyn wat sy verduur toe sy vra: “Mamma, kan ek alt sing in
Liewe Jesus se hemelkoor? Juffrou Annalie sê ek is ’n alt, want ek kom
nie die hoë note van Stille Nag by nie.”
Ek het my vinnig weggedraai om kwansuis nuwe water in die vaas van die
pienk rose te tap en my trane het ongesiens in die wit hospitaalwasbak
gedrup toe ek met my rug na haar gekeer, sê: “Ek is seker Liewe Jesus
het nog vir jou ’n plekkie tussen die alte, liefie.” Toe ek ’n rukkie
later met droë oë omdraai, was sy vas aan die slaap, haar skraal handjie
beskermend om die lyfie van haar geliefde bruin teddiebeer.
Sy was ses jaar oud, my enigste kind en deurtrek van die kanker. Die
dokter het simpatiek verduidelik dat ek en my man ons in die loop van
die volgende week gereed moes hou vir die ergste. Hulle kon niks meer
vir haar doen nie. Sy kon huis toe gaan vir Kersfees. Dit was immers
Desembermaand. Vreugdemaand, ’n maand vir samesyn. ‘n Kind word gebore;
my kind is sterwend...
Haar laaste wens was dat sy vir oulaas ’n dag by haar
kleuterklasmaatjies wou gaan speel. Juffrou Annalie het reeds op ’n mooi,
taktvolle manier aan die kleutertjies vertel dat hulle nog net een keer
met Jaminda kon speel en dat sy daarna moes weggaan om by Liewe Jesus in
die hemel te gaan speel. Jaminda self het ook geweet dat Liewe Jesus vir
haar wag en ek het met ’n knop in my keel na my man gekyk as sy
kinderlik opgewonde raak oor dié vooruitsig.
My meisiekind se laaste skooldag het op ’n skamele sesjarige ouderdom
aangebreek. Sy het vroegoggend vir my beduie van watter blomme in die
tuin ek vir juffrou Annalie moes pluk. “Van daai geles, Ma. Juffrou
Annalie sê altyd ek is ’n regte Sonstraaltjie in haar lewe.” Die klein,
bruin skooltassie was gelaai van die speelgoed. Ek gun jou die lekkerste
speeldag van jou lewe, my kind, het ek bewoë gedink toe ek haar uit die
motor in die rolstoel tel.
Die kleuterklassie het die ene oë, maar verskrik, agter juffrou Annalie
bly staan toe ons klaskamer toe begin beweeg. Jaminda se beste maantjie,
Knoxie, het huiwerig vorentoe getree. “Kan ék Jaminda stoot, Tannie?” en
ek het, dankbaar vir dié gebaar, oorgegee aan my klein helpertjie. Dit
het die ys gebreek.
Binne oomblikke was die hele klas om die rolstoel geskaar. Dirkman het
verneem of die rolstoel se wiele Slime in het, terwyl Emma en Fransien
wou weet of die inspuitings seer was. Ek en juffrou Annalie het verwese
eenkant trane afgevee en toe dapper begin deelneem aan die kleuters se
skynbaar gewone gesprek. Na ’n uur se gesels kon ek sien dat die
opwinding besig was om sy tol te eis. Jaminda se oë was baie blink in
haar bleek gesiggie. Toe vra sy of sy iets kan sê voor ons huis toe gaan.
Juffrou Annalie het al die kleuters voor haar op die mat laat sit.
Wat daarna gebeur het, het my van alle woorde gestroop. Ek het al in my
enigheid begin wonder waarom die bruin tassie saamgekom het. Jaminda het
die tassie oopgeknip en elkeen van haar vyftien kleutermaatjies by name
vorentoe geroep. Op vyftien van haar geliefkoosde speelgoed het sy name
met papiertjies en kleeflint vasgeplak. “Emma, jy moet my
porselien-teestelletjie kry – dink aan my as jy en jou poppe tee drink.
Dirkman, hier is my fietspomp – jou fiets se wiele is mos altyd pap.
Fransien, hier is my hartjiehangertjie waarvan jy so baie hou, As jy hom
oopknip, is daar ’n foto’tjie van my in.”
So het die pynlike uitdelery aangehou. En toe kom Knoxie, haar spesiale
maatjie, aan die beurt. Ek het my nek gerek, maar die bruin tassie het
vir my leeg gelyk. Het Jaminda van Knoxie vergeet? Maar nee, Jaminda het
haar mees geliefde speelding van haar skoot af opgetel, een laaste kyk
in die bruin teddiekraalogies gegee en hom toe met ’n besliste trekkie
om haar mond vir Knoxie aangegee. “Pas Teddie mooi op, want ek is baie
lief vir hom. Vat ook my bruin tassie – ek het klaar jou naam in die
deksel geskryf. Juffrou, ek moet nou huis toe gaan. Kan ons vir oulaas
Stille Nag sing?” Bewerig het sy opgestaan en tussen die alte gaan staan
en nog nooit het Stille nag so na-aan dié van ’n engelekoor geklink nie.
In die motor op pad huis toe het sy teruggesit, vir my gekyk, geglimlag
en toe ’n laaste tevrede sug gegee. Ek het met trane in my oë besef:
Jaminda het so pas aangemeld as alt by die hemelkoor…
Ek het 'n
reisigersforum begin. Enigiemand wat wil gaan rondry of pas teruggekom
het van 'n lekker vakansie kan of 'n vraag vra of van hulle vakansie
vertel,
klik hier en
gaan lees wat ander alreeds geskryf het.
Dankie hiervoor,
Hennie
Verlange kan
knaag, maar hongerpyne kry jy nie hier
Hennie Greeff
Ek en Kamermaatjie trap nou al die wêreldpaadjies sowat 16 jaar stof.
Ons draaie lê wyd. Suid-Amerika, die Filipyne, Indonesië, Taiwan en nou
ook Korea.
Verlang? Mens kan nie anders nie. Laat ek by daardie een aand laat in
2001 begin. In Taiwan.
Ek het nog so met ’n ingevoerde WP-wyntjie gesit ek kuier en oor die
internet geluister na radiosondergrense, toe kom Laurika Rauch oor die
lug met Groete aan Mannetjies Roux.
Net daar en dan, so tussen die tjank deur, besluit ek om ’n webwerf te
stig om die brug te help bou en behou tussen Anderkantlanders en
Duskantlanders, soos ek die nuwe kubernasie gedoop het.
En die res is geskiedenis. Die klomp Kammalanders skryf nou gereeld vir
mekaar en ons deel ons ondervindinge met mekaar.
So laat ek vertel van Korea, ons heel nuutste tuiste. Die land van die
senuweeagtige honde.
Van honde gepraat, laat ek sommer vertel hoe anders dié klomp hier se
eetgewoontes is. Hier word daar baie gereeld ’n verskoning uitgedink of
een uitgevind om te gaan uiteet.
Nou het die Koreane nog ietwat van ’n drankprobleem ook.
Hulle raak só gekletter dat daar selfs ’n hele bedryf ontstaan het om
dronk Koreane huis toe te neem.
As jy voel die wêreld draai te veel, dan bel jy net en bestuurders daag
op. Een neem jou huis toe in jou eie motor en die ander volg julle om
die bestuurder te kom optel by jou huis. Duur, maar baie goedkoper as ’n
nag in die tronk!
Omdat eer en voorkoms so belangrik is hier, het hulle gesorg dat niemand
mekaar onder die tafel kan indrink nie. Hoe? Hulle het al die tafels se
pote afgesny! Hulle sit almal plat op die vloer, langs tafels skaars ’n
voet hoog! Ai, my seer knieë!
Die eetgerei bestaan uit twee vlekvrye staal-tjopstieks en ’n eetlepel
met so ’n lang steel. ’n Mens wissel so tussen die twee en sit die een
neer terwyl jy die ander gebruik.
Eet ook net met die regterhand, en mens neem jou drankie met daardie
selfde hand, terwyl die linker-een die hart vashou om vriendskap te
simboliseer.
Vis en skulpvis is baie algemeen. Beesvleis is gesog, maar baie duur.
Hulle is gek oor varkvleis wat in sulke spekrepe gesny is en wat jy dan
self oor die kole braai. Ja, elke tafel sonder pote het ’n gat in die
middel waarin daar kole in ’n pot geplaas word en dan braai jy jou eie
vleisie en jou stukkies knoffel.
By elke ete is daar gepiekelde kool of raap – die sogenaamde Kim Chi
waarsonder geen Koreaan oor die weg kan kom nie. Sterk geknoffel en
skerp byt aan hom – te heerlik!
Uniek is ook die gewoonte om eers ’n slaaiblaar (en daar is ’n groot
verskeidenheid) te neem in die palm van jou hand en dan in die middel ’n
stukkie vleis te plaas. Ek hou nogal van die sesameblaar wat soos ’n
moerbeiblaar lyk.
Met die tjopstieks sit jy ’n verskeidenheid bykosse wat in bakkies die
tafel vol staan ook by, en vou dan die blaar in so ’n klein
wasgoedbondeltjie toe. Dié word dan in die mond gestop en afgewas met ’n
sopie soju, Korea se weergawe van witblits.
Dit eet vreeslik vinnig. Sodra jy jouself tot so op een elmboog geëet
het, dan kom daar nog ’n rondte kos. Nou moet jy kies tussen ’n bakkie
rys met sop waarin daar gewoonlik tofu is, en glasnoedels in ’n reuse-sopkom.
Gulsig word daar dan weer weggelê en geslurp.
Met my verwelkomingsete was daar ook rou beeslewer en pensvelrepe op die
tafel. Met die hulp van ’n hele paar slukkies soju het ek eers die lewer
aangedurf en daarna selfs die rou afval.
Die lewer kon nog gaan (ons eet mos biltong) maar met die pensvelletjies
het dit baie ekstra soju geneem om die smaak van die kraal uit te was.
Gee my eerder ’n lekker boere-kerrie-afval, enige dag!
Ek luister mos
een Saterdagoggend na Amore Bekker op RSG waar sy 'n onderhoud voer met
Braham van Zyl. Ek kontak hom toe en is nou op sy poslys, hier volg een
van sy vertellings. Kontak hom gerus en vra om op sy poslys te kom. (Eposdres
onderaan die artikel) Hy beoog om 'n gereelde nubrief uit te stuur.
Suid
Afrikaanse agterpad reisnotas - versamel deur Braham van Zyl
GROOT MARICO. Noordwes Provinsie
Dit was nog altyd my begeerte om ook in die Groot Marico kontrei uit te
kom. Dié besondere deel van ons land het my bly ontwyk en ek kon eers in
November 2005 daar ‘n draai maak.
Egbert en Santa van Bart is jare lank reeds sinoniem met toerisme in
daardie streek. ‘n Mens kan amper sê dat dit eintlik hulle was wat
Herman Charles Bosman en sy storieboekkarakter van Oom Schalk Lourens só
beroemd gemaak het. Dit was dan ook hulle wat gesorg het dat die Bosman
skooltjie op Groot Marico herbou is en dis ook hulle wat die dryfkrag
agter die jaarlikse Bosmanfees daar op Groot Marico is.
Die Marico streek lê teen die N4 hoofroete en strek so naastenby vanaf
Zeerust aan die westekant tot by Zwartruggens aan die oostekant.
Egbert en Santa het my vir twee dae daar onthaal en die wêreld gewys.
Vir my was die baie bosse en die golwende landskap met sy diep klowe die
wonderlikste. En natuurlik die kuiers by al die wonderlike mense.
Florrie-Ann Esterhuizen het my van die Waterbobbejaan vertel. Piet
Rympies en ek het ure lank in sy rympiesrondawel sit en stories uitruil.
En Oom Piet van Niekerk het my gewys hoe om nog op die tradisionele
manier swepe te vleg.
Ek het wel mampoer te proe gekry, maar kon geen van hierdie tradisioneel
gestookte voggies te koop kry nie.
Skakel Santa by 083-272-2958 of info@marico.co.za vir meer inligting.
Deur: deur Braham van Zyl
Posbus 1259, Durbanville, 7551
Faks 021-975-4466
Sel 082-457-0019
e-pos : info@explore-sa.com
Laat
jou wildste drome waar word, kry 'n kaartjie in die UK Lottery,
klik net hier
Die boerpot is Woensdag £11 miljoen, om en by
R140,000,000, sjoe, dis darem maar baie nulle!!
Boererate en
Boerekosresepte saam in een eBoek vir net R75. Geen posgeld om te betaal,
stuur dit as 'n geskenk per epos! Twee boeke in een!
Kontak my vir betalingsbesonderhede.

Suid Afrika se Afrikaanse
soekenjin
ePos Vriende - In die ou dae voor die internet het ek vele
penvriende regoor die aardbol gehad. Jy moes weke wag vir 'n antwoord op
jou brief! Vandag, met ePos gaan dinge sommer blitsvinnig! Mens moet
egter in baie gevalle betaal om jou naam op 'n penvriend lys te kry. Ek
glo nie daarin om vir vriendskap te betaal nie, dus gaan ek 'n gratis "ePos
Vriende" afdeling begin. Al wat jy hoef te doen om jou gegewens op die
lys te kry is om
HIER te klik en jou besonderhede in te tik. As jy soek na 'n
vriend, klik
HIER en gaan deur die lys en stuur 'n epos aan iemand met wie
jy wil korrespondeer,
so maklik soos dit!
st
se pitkos
Klik hier om st
se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief
“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens
vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.
Nog
gevleuelde woorde van ST:
Bekamping van misdaad
In ons vorige nuusbrief het ek het reeds drie moontlikhede bespreek oor
die bekamping van misdaad. Vandag volg ek op met nog twee.
Ons behoort ‘n minister van werkskepping aan te stel. Hierdie persoon
moet oor die kennis en kundigheid beskik om die saak behoorlik te
bestuur. Solank werkloosheid in Suid-Afrika voortduur, sal misdaad
voortduur. Elke mens in hierdie land behoort ‘n werk te hê met ‘n
leefbare inkomste wat sal sorg dat hy en sy gesin ‘n dak oor die kop het,
‘n bed om in te slaap, brood op die tafel, dan en wan sjoklits te koop,
en geld vir geleenthede vir sy kinders.
Mense wat hierdie dinge het, het nie rede om te steel en te moor nie.
Wanneer mense eiendom het, en ‘n goeie leefbare inkomste verdien,
behoort misdaad af te neem. Dit werk ongelukkig nie altyd so nie. Daar
sal altyd mense met misdadige neigings wees. Dit kan hoe goed gaan in ‘n
land, maar kriminele sal jy kry. Moordenaars, rowers, skelms was daar
altyd. Dit was nog altyd so en dit sal waarskynlik altyd so wees. Maar
deur werkskepping voorsien jy ten minste aan ‘n groot gros mense die
geleentheid tot ‘n ordentlike lewe en haal jy hulle uit die misdaad
kategorie. Gee vir mense iets om voor te lewe - die wat niks het om te
verloor nie, is soveel meer vatbaar om in misdaad te verval.
Ek dink nou sommer terwyl ek hier skryf aan die tyd toe werk en geld
skaars in Suid-Afrika was. Werk is geskep deur ‘n kanaal langs die
Oranjé-rivier te gegrawe en te bou. Dit het behalwe die werkskepping nog
die praktiese voordeel gehad vir die boere langs die rivier, plus
ekonomiese voordeel vir die hele streek. Vandag – na dekades - is die
kanaal nog daar tot bate van die hele gemeenskap. [ek het al menig keer
op warm Desemberdae in die kanaal afgestroom]. Ek is seker van ons
lesers sal nog voorbeelde van sulke verbeeldingryke
werkskeppings-projekte kan noem.
Werkskepping is egter nie maar sommer ‘n vinnige plannetjie of twee nie,
maar sal die insette van hoogs kundige en kreatiewe denke vereis. Dis
nie net eenvoudig soos ‘n werkskeppingsprojek wat aangepak word nie,
maar behels baie meer as dit. Dit begin by beroepsvoorligting,
identifisering van geleenthede, die benutting van menslike potensiaal,
demografiese faktore, tegnologiese ontwikkelinge, tendense in nasionale
en internasionale handel, ekonomiese markte en so meer. Ons land benodig
‘n minister van werkskepping - ‘n KUNDIGE persoon van formaat.
Die hele proses om misdaad in ons land onder beheer te kry is ‘n
komplekse situasie wat onder andere insluit sosiale, politieke,
godsdienstige, sielkundige, morele, finansiële, rasse, kulturele,
demografiese, geografiese, wetlike faktore. Dis waarom die volgende stap
so nodig is.
Ons moet verenig in gebed. Die gebed van gelowiges is van groot krag.
Ons moet bid vir oplossings vir die misdaad-geteisterde Suid-Afrika, bid
vir slagoffers, bid vir die kriminele, bid vir groot genade, bid vir
beskerming. Die tyd het aangebreek dat ons weer toevlug neem na die
ankers en basis van menswees, naamlik geloof. Dis waar ons beskutting en
troos vind wanneer hewige aanslae teen ons kom. Saamstaan van gelowiges
eendragtig in gebed sal ons deurdra na ‘n nuwe môre.
Miskien eendag, sal gewone wetsgehoorsame mense weer veilig voel in ons
dorpe, stede en op die plase. Sal ons weer snags rustig kan slaap met
oop vensters sonder tronktralie-diefwering. Sal ons kinders weer na hul
maatjies kan stap om te gaan speel sonder dat ons hoef te vrees oor hul
veiligheid. Sal ons weerlose bejaardes weer veilig en rustig hul laaste
dae deurbring. Miskien eendag sal ek en jy nie meer gedurigdeur oor ons
skouer hoef te loer nie – maar kan leef in die volle vryheid van ons
menswees.
‘n Sprankie wysheid vir die dag
“There is no right to strike against the public safety by anybody,
anywhere, any time.” – Calvin Coolidge
Kry die Augustus-uitgawe van die tydskrif Sarie – die uwe het ‘n mening
in die artikel “Steek die Vuur in jou aan!”. Die artikel handel oor
entoesiasme en is geskryf deur Jeanne Els.
Het
jy al mismoedig gevoel oor die lewe.
Dr ST Potgieter
Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos:
st@pitkos.co.za
|
|