|
Wees gegroet!
Welkom aan al die
nuwe intekenaars en al my beste wense vir 2005 vir julle almal!
Die jaar begin op 'n
gewigtige noot! Ek het die vakansietyd veels teveel geëet! Nou moet
die trapmeul in die plaaslike gym dit ontgeld! Ek is seker ek is in
goeie geselskap en dat ten minste 95% van die lesers in dieselle bootjie
is! Ag, maar al die vakansiekossies was darem SOOO lekker!
Ons was vir 'n paar
dae oor Kersfees in die Kruger Nasionale Park. Was fantasties, behalwe
vir die hitte! Nooit weer in die park in Desember nie. Dankie tog vir
lugversorging in die motor en rondawel. Die arme mense in die
tente, ek sou morsdood gewees het!
In alle geval, ons
geniet toe Kers-ete in die restaurant op Skukuza, nogal heel angenaam!
Kan dit aanbeveel! Klik
hier om die spyskaart te sien. Van Skukuza reis ons na Letaba en spandeer 'n paar
dae daar ook, baie mooi, net bietjie warmer as Skukuza! Was lekker om
weer die koel weer van Alberton te ondervind. Oos Wes, Tuis Bes! Klik
hier om van die dierefotos te sien wat ek geneem het en
hier om van die watervalle te sien wat ons op pad Park toe
geneem het
My groot projek vir
2005 is 'n eBoek oor Boererate. Beide medisinaal en huishoudelike wenke,
ek maak bymekaar dat dit klap, wil seker maak die boek is die moeite
werd en 'n omvattende versameling sal bevat. Ek doen dit omdat dit van
kultuurhistoriese belang is dat ons Boererate bewaar word. En ek dink
dit is dan ook die eerste keer dat dit in elektroniese formaat sal wees.
Hier is waar julle
kan help, ek sal dit waardeer as julle sal rondkrap en vir my sal
Boererate stuur. ePos is die maklikste, stuur asseblief aan
peterjasie@gmail.com
Vir die van julle
wat nie die volgende artikel in Rapport se Tydskrif gelees het nie, hier
is nou julle kans.
Elizabeth Taylor
se troukoek
Deur Tienie Holtzhauzen (stuur
vir Tienie epos as julle van die artikel hou)
Om 'n pos by Pretoria se grootste dagblad te kry, was nog nooit maklik
nie. Dié dat ek destyds wou oorloop van belangrikheid. Maar nie vir lank
nie. Want 'n junior verslaggewer se salaris is maar eina. En 'n meisie
wat pas mondig geword het, hou nie daarvan om arm te wees nie. Gelukkig
het my ma my leer troukoeke bak. Om 'n ekstra geldjie te verdien, is dit
toe maar wat ek doen.
Potensiële kopers van die spoggerige troukoeke was egter skaars. Miskien
omdat hulle meer vertroue had in 'n tannie wat lyk of sy voor die stoof
tuis is, as 'n minirokpoppie wat lyk of sy nog op die skoolbanke hoort...
Nie dat my skeppings vir enigiemand in die koekbedryf terug hoef te
gestaan het nie. Veral die versierings bo-op sou menige beeldhouer groen
van jaloesie kon maak.
Toe ons dus hoor Elizabeth Taylor gaan vir die tweede keer met Richard
Burton trou, sit dit my aan die dink. Botswana, waar die troue gaan wees,
is mos net om die draai, sê ek vir my redakteur. Nie lank nie of hy stem
saam dat ek net die regte een is om dié spoggeleentheid te gaan
dokumenteer.
Toe bak ek 'n troukoek wat wat soos die vasteland Afrika lyk. 'n Afrika
wat regop staan op 'n plat basis versier met 'n tiervelpatroon. Bo-op
Afrika pryk twee manjifieke kop-en-skouerbeeldjies van Elizabeth en
Richard. Mense wat dit gesien het, kon nie glo hoe lewensgetrou hul
gesigte lyk nie. Baie trots op my skepping, huur ek summier 'n
professionele fotograaf om dit te kom afneem.
Dié foto's word toe aan Elizabeth se bestuurder gepos. Nie lank nie of
hy skryf terug. Wonderlik, sê hy, hulle beplan juis 'n tweede onthaal.
As die verrigtinge by die Afrika Lodge waar hulle tuisgaan, verby is,
gaan hulle verder makietie hou iewers in die Okavango. Dié keer in 'n
reuse markiestent. Waar hulle ook kos aan arm kindertjies in die
omgewing gaan verskaf. Maar sê hy, daar is honderde honger magies. Hy
benodig dus 'n koek drie maal so groot soos die vorige ene. En dan wéér
foto's van my nuwe poging, vra hy.
Met graagte, laat weet ek dadelik. En vergeet skoon dis nog 'n rukkie
voor betaaldag. En sulke soort koeke se bestanddele is duur. Maar 'n
desperate mens maak 'n plan. Eers word die twee gesigte bo-op die koek
herdoen. Nouwel net tydelik, maar in driedubbele formaat lyk hulle nog
soveel meer indrukwekkend. Vir die onderste dele word daar net 'n
raamwerk uit ogiesdraad en karton gemaak. En dié word volgemaak met
potplantgrond, sodat dit genoeg gewig het om nie om te val nie. Of nie
induik nie. Klaar versier, stuur ek weer die foto's.
Op my tyd bak ek toe drie weke later die regte vrugtekoek met Kaapse
rosyntjies en Portugese portwyn. Doen ook die replikas van die
bruidspaar weer oor met vars bestanddele.
'n Paar dae later is ek weg Botswana toe. Die koek en die
koerantfotograaf sal later volg. Hy het mos die sleutel van my woonstel,
asook instruksies waar om die koek te kry. En hoe om dit vrééslik
versigtig te verpak en te hanteer.
Intussen huur die opsigter van die gebou juis toe 'n span pesbestryders
om die plaag kakkerlakke te kom bespuit. Toe hy my woonstel oopsluit en
die pragkoek so weerloos op die kombuistafel sien, pak hy dit in 'n leë
kartonboks en bêre dit in 'n kombuiskas, ver van die spuitstowwe af.
Onbewus hiervan, sit ek in Botswana en onderhandel met Elizabeth se
bestuurder oor 'n prys vir vir my troukoek. 'n Wonderlike prys. Genoeg
om drome te droom van 'n blyplekkie met 'n tuintjie.
Toe die onthaal aanbreek, trek ek my duurste swart nommertjie aan.
Vreeslik vol selfvertroue, asof ek gewoond is daaraan om skouers te
skuur met mense soos Barbra Streisand, Paul McCartney en Julie Andrews.
Agter die markiestent is daar 'n miernes van kosspanne besig om eetgoed
uit te deel. Maar waar hulle gehoop het die tou kleintjies uit die
nabygeleë dorpies sal naderhand ophou, word dit net al hoe langer. Chaos
is nie die woord nie.
Tyd om die bruidskoek te sny, kondig die seremoniemeester aan. Die uwe
word nadergeroep om saam met haar Afrika-koek te poseer. Kameras
verblind my. Ek glimlag tot my wangspiere styf is.
Toe hy vir Elizabeth 'n koekmes in die hand stop, voel dit of my hart
uit my keel gaan bons. Veral toe al die belangrike gaste so bewonderend
koer oor die tiervelversiersel. Maar toe sy so bolangs by Egipte begin
worstel en mens hoor net lem teen ogiesdraad knars, besef ek daar is
moeilikheid.
Skielik maak ek of 'n hoesbui my oorval en verdwyn soos blits uit die
openbare oog, spring in my gehuurde motor en vat die pad lughawe toe.
Waar hulle in Botswana so gou 'n klomp vrugtekoeksnysels gekry het om
aan die kindertjies uit te deel, sal niemand weet nie. Maar hulle het.
Terug by my woonstel ontdek ek toe natuurlik die eintlike troukoek in 'n
boks in die kombuiskas. Histeries kwaad, vat ek 'n houtlepel en begin om
die lieflike skepping aan flarde te slaan.
Terwyl die trane so spat oor die hompe koek vol rooikersies, dadels en
rosyne, lui die telefoon. Dis my baas. Hy't my hulp dringend nodig. Die
koerant is uitgenooi na 'n teepartytjie in die stadsaal volgende week.
En die burgermeestersvrou het hom 'n guns gevra. Sy wil tog so graag
spog met 'n unieke koek. Ene presies soos dié wat die Taylor-Burtons
gehad het . . .
Tóé kap die houtlepel darem daai tiervel ékstra, ekstra fyn.
Ons spandeer almal
teveel oor die vakansietyd en alles word ook duurder in die nuwe jaar.
Verlig die las deur jou kort termyn versekeringspremies te verminder,
vir gratis aanlyn kwotasie,
klik hier!
Is skool onkostes 'n kopseer? Doen
aanlyn aansoek vir 'n Barclaycard en betaal oor 'n jaar af! Doen
dieselle volgende jaar! |
 |
AFRIKAANS VIR MY
Woorde: M.L. DE VILLIERS
Musiek: M.L. DE VILLIERS, 1925
Suid-Afrika, trek op, ons klim die steilste kop,
die Taal is ons krag en getrou sal ons bly.
Vader spreek dit, Moeder kweek dit, kindjie kweel dit,
almal streel dit: Afrikaans vir my!
[REFREIN]
Niemand breek hom, wetsman smeek hom, dom'nee preek hom: Afrikaans!
Skole leer dit, staatsman eer dit: Afrikaans!
Lewe ons dierbaar taal: Die Volk sal ly en stry
vir moedertaal so trou as staal: Afrikaans vir my!
Ons eie Woord[1] die bloei in Afrikaans
en groei soos vloedgolf wat aanval uit volste gety;
veld, karoobos, hemelblou, los koppie, klowe,
waterstrome, alles roer vir my!
[REFREIN]
Niemand breek hom, wetsman smeek hom, dom'nee preek hom: Afrikaans!
Skole leer dit, staatsman eer dit: Afrikaans!
Lewe ons dierbaar taal: Die Volk sal ly en stry
vir moedertaal so trou as staal: Afrikaans vir my!
Ons Erediéns en Sang, Kultuur gevoel die drang
van Voortrekker volkswil, geharnas en vry;
siele lewe't God gegewe; niks verdoof dit,
niks ontroof dit: Afrikaans vir my!
[REFREIN]
Niemand breek hom, wetsman smeek hom, dom'nee preek hom: Afrikaans!
Skole leer dit, staatsman eer dit: Afrikaans!
Lewe ons dierbaar taal: Die Volk sal ly en stry
vir moedertaal so trou as staal: Afrikaans vir my! |
|