|
Wees gegroet!
Ek kry ePos van oral
in die wêreld. Van mense wat ver van hulle tuisland is en graag iets in
Afrikaans wil lees. Julle sal verbaas wees om te hoor in watter uithoeke
van die wêreld daar Afrikaanssprekendes is! Laat my sommer goed voel!
En hier is ons al by
nuusbrief nommer 50! Heng, ek het darem al baie gegorrel! Ek kry nog
daagliks intekenaars by so lyk my ek doen darem iets reg. Maar een
ding is seker, ek het van die beste Afrikaanse skrywers wat vir my
artikels aanstuur, Minette Brink, Frik Lombaard en Tienie Holtzhausen om
net drie te noem.
Wie weet wat 'n "spatlo"
is? Ons was onlangs in Rustenburg en ek word toe lus vir slap chips en
ek gaan koop vir my by 'n wegneem plek so oorkant die stadsaal waar Tony
se kafee jare geled was. Ek sien toe 'n spatlo, as ek reg onthou
besteen dit uit brood met slapchips, atchaar en snye polonie. As iemand
meer inligting het of enige Rustenburger vir my sal uitvind sal ek dit
waardeer. Dis nou tipies iets wat ons net hier in SA sal hê.
Hier volg juis een
van Tienie se stories. Julle moet dit vreeslik geniet en stuur tog vir
Tienie ePos as julle daarvan hou. Sy sal dit
rêrig waardeer!
Geniet die volgende
50 nuusbriewe
Flippie se lithp
Deur Tienie Holtzhauzen
My kleisus, 'n radiografis by 'n groot hospitaal in Pretoria, was nogal
bekaf toe sy destyds hoor sy moet dié Desembervakansie op diens wees.
Maar dis mos maar hoe sulke plekke werk. Hulle kan nie bloot net hul
deure sluit nie.
Ek kon daardie Desember ook nie juis 'n vakansie bekostig nie. Dis
hoekom ek toe saans maar vir haar gaan kuier. Net om aand na aand vergas
te word met 'n nuwe spookstorie. Dit raak naderhand so erg, ek is te
bang om na die tyd alleen huis toe te ry. Nie dat dit haar gepla het nie.
Sy't gedink dis skreeusnaaks.
Bedags beman sy vrou-alleen die x-straalafdeling in die kelderverdieping
van die hospitaal. Behalwe vir die gesuis van die lugversorger en die
gekraak van die warmwaterpype, is daar geen ander geluide of roeringe
nie. Vir ure lank ook geen pasiënte nie. Dit was net sy, die telefoon en
die groot, groot stilte.
Skielik val sy amper van haar stoel af. Een van die tydskrifte bo-op die
stapel in die wagkamer het afgegly en met 'n knal op die vloer beland.
Lam en bewerig bel sy my. "Ousus, my gestel gaan dit nie 'n dag langer
hou nie." Wat ek toe nie vir haar sê nie, is dat sy simpatie by die
verkeerde vrou soek. Sy is immers die een wat so vir my gelag het, toe
haar spookstories my so ontstel het. As sy nou haarsélf bang gepraat het,
is dit haar eie skuld.
Toe sy een Vrydagmiddag 'n bietjie vroeër as gewoonlik wil loop, gaan
die swaaideure voor die wagkamer krakerig oop. En 'n yslike reus vul die
raam van die deur. Oor die ses voet lank. Hygend, met bakarms en 'n
fanatiese uitdrukking in sy oë. "Mense, ek dog my laaste uur op aarde
het aangebreek," bieg sy.
Reg om die paniekknoppie te druk, hoor sy 'n stem 'n entjie agter hom. "Flippie,
as jy nie nou vir jou ma wag nie, gaan ek vir jou foeter, hoor."
Flippie, 'n twintigjarige met Downsindroom, steur hom nie veel aan sy ma
nie. "Tannie moet theblief dadelik foto'th van my tande neem, theblief
tannie." Hy kry nie stilgestaan nie. Sy boomstompbene bokant sy dik
enkels trippel al om haar. Terwyl sy groot maag saamdril. Hy kom nie
eers agter hoe dié gespringery sy goudgeel kouse met die Donald
Duckprentjies daarop, laat afsak nie.
Sy ma vul toe die storie aan en wys die doktersbrief. Flippie het dié
oggend met al sy spelery iewers teen iets geval. Toe sy weer sien, is
twee van sy voortande nie meer daar nie. Sonder dié voortande, kry hy
nou ook nie meer sy s'e ordentlik gesê nie. Nie dat dit lyk of dit hom
pla of minder laat praat nie.
Die dokters vermoed die tande kon hulself dalk met die valslag diep
iewers in die kakebeen ingebed het. Maar dit sal net x-straalfoto's kan
bewys.
Eers moet hulle 'n vorm invul.
"Flippie, hoe laat het jy geval?"
"Kannie onthou nie, tannie." En sy dik voorvinger volg 'n miertjie wat
op die leuning van sy stoel rondloop.
"Flippie, wáárteen het jy geval?"
"Kannie onthou nie, tannie. Tannie, kan onth nou maar gaan foto'th neem,
tannie?" Sy klein ogies kreukel nog kleiner op. Tot dit lyk of hulle in
sy ronde gesig se gesonde wange wil verdwyn. Toe hy sy kop smekend
skeefdraai, word sy drie kenne vier.
Na 'n klomp kannie-onthou-nie's gee sy moed op en hulle stap na die
blinkwit x-straalmasjiene toe.
Dit was ongelooflik hoe mooi Flippie saamgewerk het, vertel my sus my
later. Regtig 'n modelpasiënt. Volg elke instruksie van haar noukeurig.
Sommige van die houertjies waarin die foto's in sy mond moes gaan, het
hom nogal seergemaak, kon sy sien. Want soms het die trane ook maar
gebiggel. Of miskien was dit omdat hy so woes probeer het om hard genoeg
daarop te byt. Nes sy versoek het.
Toe sy sê hy moet mooi wag, sy gaan net gou die foto's ontwikkel, is hy
sielsongelukkig. "Kan ekke nie maar gaan kyk nie, thebliéééf, tannie?"
Die donkerkamer was nie baie groot nie en die kolossale Flippie kon ook
nie eintlik stilstaan nie. Maar dis toe gedoen. Na my sussie omtrent 'n
duisend vrae moes antwoord.
Toe sy die foto's teen die elektriese lig bekyk, trap hy met sy groot
lyf om haar rond soos 'n kat op 'n warm stoofplaat. Weet ook nie wát om
met sy hande te maak nie.
"Maar mense, hier is geen tekens van ingestampde tande in hiérdie
kakebeen nie," verseker sy hulle. "Dit móés losgekom het en uitgeval het."
Sy kyk suspisieus op na Flippie, wat amper 'n goeie outydse twee voet
langer as sy is. Die duiweltjies wat in sy oë ronddans, laat haar lont
ruik.
Toe kan hy homself nie langer inhou nie. Hy rol amper op die mat rond
soos hy lag.
"Dit kon ek lááánkal vir julle gethê het," kry hy uit toe hy effens
begin bedaar. "Daai tanne . . ." en hy bly dramaties stil. "Daai tanne
ith innie die vithdam, waarin ek gegly en geval het."
Skielik vroetel hy in sy sakke en haal 'n albaster uit. "Maar net oorlat
dit tho lekker wath hier by tannie, kan tannie my héél bethde ghoen kry."
Terwyl hy haar styf teen sy sagte, groot maag vasdruk, vlek haar trane
sy geel hemp, wat so mooi by sy Donald Duckkouse pas.
|
 |