|
Dagsê
!
Wie van julle maak elke dag toebroodjies vir die kinders of vir manlief?
Ek wed julle kan doen met idees hoe om daardie toebroodjies op te kikker.
Ek het nou al 'n geruime tyd 'n blad op my webwerf waar mense vir my
idees stuur oor hoe hulle "anderse" toebroodjies maak (in Engels). So
klik hier en gaan kyk of jy
van die idees kan gebruik, maar wees gewaarsku, party mense het
"volksvreemde" smaak!
Hier is 'n geleentheid vir julle leunstoelreisigers om 'n toer deur die
Weskaap te ervaar saam met Anton Smit, eienaar van die
Ceres Internet Café,
op Ceres natuurlik!
Hier is deel een van
sy reis, stuur gerus vir Anton
ePos as julle enige kommentaar het of net wil terugvoer gee. En
sien julle die lekker koppie koffie hier regs? Klik gerus daarop en gaan
kuier vir Anton in Ceres!
Ek het die naweek
die Weskaap toer gedoen en net weer besef watter mooi deel van die land
bly ons in - selfs in die swaar reën is dit mooi.
Ek is vroegoggend Saterdag vanaf Ceres deur die Michel'spas, oor die
Witbrug verby die Mill & Oaks Country Inn, verby bottende vrugtebome by
Wolseley.... Net nadat ek by Bergsig Wynlandgoed op die Worcesterpad
gedraai het, het ek by Breërivier en Wagen Boom Koöp weer regs gedraai
oor 'n klein stukkie grondpad wat oor 'n laagwaterbruggie gaan oor die
Breërivier, en daar het ek die eerste vrugtebloeisels van die seisoen
gesien - 'n hele boord van ouerige bome (vermoedelik kaalgatperskes) in
pienk getooi. Die grondpad raak net op daardie plek 'n goeie teerpad met
geelstrepe beide kante wat lei deur die Slanghoek vallei - een van my
gunsteling paaie. Daar is onder andere die Slanghoek bergoord en 4x4
roete, die Grietjiesdrif Restaurant en Gastehuis, en Slanghoek se
moderne kelder. Daarna gaan die pad verby die Goudinispa, en net voor
mens by Rawsonville se dorpie kom, draai mens op die ou N1-pad in die
rigting van Dutoitskloof. Bokant die Protea Park hotel is die
asemrowende watervalle, en dan nader mens die tonnel - 'n wonder van
siviele ingenieurswese. Aan die Paarlkant ry mens verby nog bekende
wynkelders; die naald van die Afrikaanse Taalmuseum en die granietrotse
van Paarlberg is aan die regterkant sigbaar en aan die linkerkant die
koppie met die vorm van 'n kryghelm en die gepaste naam Klapmuts. By
Klapmuts se dorpie het ek afgedraai van die N1 af, en Suid gery in die
rigting van Rosi se wêreld, Stellenbosch: verby Butterfly World en 'n
plek waar mens vleis en ander produkte in 'n mark-atmosfeer kan koop.
Nader aan Stellenbosch kom mens by Kanonkop en van die ander wynplase,
baie waarvan in die laaste tyd eienaars verwissel en in die hande van
Europese groepe en adelikes beland het. Daarvandaan seker die
indrukwekkende kasteel op die een, wat herinner uit 'n toneel op die Ryn
of Moselle [Rosi jy kan gerus vir ons 'n foto van die kasteel, en van
die interessante toringkie op die plaas oorkant die pad daarvandaan op
die Rosiblad plaas]. - ek is seker egter dat van die Stellenbossers niks
van hierdie 'aangeplakte' Europese argitektuur hier in hul midde hou nie
?
Deur Stellenbosch met die groen Papegaaiberg aan my regterkant (ek
wonder of sy dennebome ook binnekort afgekap gaan word omdat hulle
uitheems is, en die kop dan kaal gaan wees?), veby die 'Bos se
historiese stasiegebou wat lyk of hy besig is om opgeknap te word, en
verby die uitdraai na die baie mooi Devonvallei met sy mooi Proteahotel
waar mens lekker kan eet, en JC le Roux se vonkelwynkelder, maar dit is
'n toer vir 'n ander dag...
Volg die Lynedochpad en net na die plaas met die waterfontein draai mens
regs op die Polkadraaipad, daar kan mens weer mooi herehuise en wynplase
sien, en ook sien hoe die mense geleenthede gebruik soos kuns,
gasvryheid en toerisme om die boerdery aan te vul, soos die Kanu
landgoed wat 'n goed-ingerigte lokaal vir troues en konferensies het.
Zevenwaght en die restaurant met die Fabergé juwele is ook daar naby
By Blackheath kom die Polkadraaipad by die Kuilsrivier-Strand pad (ek
het deur Kuilsrivier gery en toe weer Oos gedraai op die Bottelarypad) -
op daardie stukkie pad asook waar mens wegdraai in Brackenfell in is
daar kleinhoewes waar alles van Skaapvleis, Hoenderpakke, Plante,
Kraalmis, Tuinklippies, Pizza-oonde tot akwariumtoerusting teen goedkoop
pryse te koop is. Na mens links gedraai het en die Crammixpad gekruis
het, is daar ook 'n nuwe luukse restaurant en konferensiefasiliteit met
'n grasdak. Hiervandaan is ek met die Okovangopad verby die reuse nuwe
CapeGate winkelsentrum wat in verskillende fases ontwikkel word en wat
in aanbou is, deur Durbanville, en met die Vissershokpad / Durbanville
wynroete oor die Tygerberg, verby die Tygerpvalleipad en Altydgedacht
wynlandgoed aan die linkerkant, Poplars restaurant en gastehuis, verder
aan aan die linkerkant is die Durbanvilleheuwels wynproelokaal met
uitsigte oor Tafelbaai, Robbeneiland, Bloubergstrand en Melkbos, maar
dit is op helder dae, soos dit nie Saterdag was nie.
Deur Milnerton het dit hard gereën - daar is 'n nuwe winkelsentrum (The
Paddocks ?) met Superspar en 'n klomp ander winkels net buite die gewese
Milnerton perderesiesbaan. Daarvandaan het ek die Otto du Plessis kuspad
geneem verby Woodbridge-eiland (waar ons al 'n baie lekker luisete
vantevore geniet het in die gholfklub se restaurant), en by
Paardeneiland het ek regs gedraai op die pad wat deur die dokke loop (hierdie
pad gaan weens 9/11 wat ekstra sekuriteit by hawens en lughawens vereis,
binnekort gesluit word vir die algemene publiek). As mens dus voortaan
by Panama Jacks of een van die Restaurante in die dokke wil eet, moet jy
bespreek, en sal jou naam op 'n lys geplaas word wat na die sekuriteit
gaan. [hierdie geld nie vir die Waterfront nie, slegs vir die gedeelte
vanaf A-kaai ooswaards].
In Kaapstad self het dit ook lekker gereën - besoekers sal goed doen om
die inligtingsentrum te besoek wat in Burgstraat is (oorkant die straat
van die Parkade, en net om die hoek van die Cape Sun InterContinental).
Ek sal sterk aanraai dat mens met Langstraat ry as jy in die rigting van
die kabelstasie of Kampsbaai wil beweeg. Langstraat het die afgelope
paar jaar 'n gedaanteverwisseling ondergaan en het 'n boheemse atmosfeer
gekry, met eetplekke, koffiewinkels, kunswinkels, en Afrika-handwerk van
wêreldstandaard. Daar was watervalle sigbaar op Duiwelspiek, asook die
voorkant van Tafelberg naby Plattekloof. Besoekers aan Kaapstad sal ook
die rollercoaster-rit deur die strate van Tuine, Oranjezicht en Fresnaye
- dit alles in jou eie motor ! Ook die rykmansargitektuur is
indrukwekkend.
Vanaf die Tuinesentrum kan mens die pad bokant Culemborg (die ou Distrik
6) met sy ry dubbelverdiepinghuisies en wonderuitsig oor die Kaapse Hawe.
Dan verby die Groote Schuurhospitaal aan die voet van Duiwelspiek. Soos
mens die N2 roete neem wat daar begin sien jy dat, hier aan die begin
altans, hy glad-nie eintlik voldoen aan sy mooi naam van Tuinroete nie,
en besef mens ook hoe moet daar duisende Kapenaars in armoede lewe -
daar is rye en rye plakkerspondokke langs die N2 tot by die Kaapse
lughawe en verder - dit is gewis 'n "eye-opener" vir al die oorsese
toeriste wat die roete volg na en vanaf Kaapstad Internasionale lughawe.
Dit is ook so met baie ander wêreldstede soos die Favelas van Rio de
Janeiro. Wat alles nog erger gemaak het was die damme water wat by die
lughawe aanloopbaan staan - bewys van die 47mm reën wat hulle binne 4
ure die vorige week ontvang het daar, en mens kon net dink hoe moet die
water staan binne die plakkerskampe self.
Dit lyk vir my die Suid-Afrikaners se kooplus raak nie op nie, want ook
by die Somerset Mall in die Strand is hulle weer besig met groot
uitbreidings. Vandaar volg mens die N2 in die rigting van Sir Lowry se
pas, verby die Shell Garage met die plaaswerf en tradisionele kraal, en
aan die ander kant van die pad, Monkey Town
www.monkeys.co.za en
die Sirlowyspas dorpie, waar daar ook 'n dam is waar mens sonder 'n boot
kan waterski - daar is sulke kabels wat mens oor die dam trek.
Sir Lowryspas het 'n mooi uitsig oor die see by die Strand en
Gordonsbaai, en oor die Kaapse Skiereiland aan die ander kant van
Tafelbaai. Bo-op die pas is 'n uitkykplek waar mens kan stilhou (ongelukkig
aan die "verkeerde" kant van die pad as mense Ooswaards ry. 'n Ent
verder, aan die regterkant van die pad is die Steenbrasdam wat nou 100%
vol is, en waar mens permitte kan kry om piekniek te hou. by die afdraai
na Grabouw (Elgin) begin die padstal-streek met Peregrine (met sy
Plaasboer Braairestourant) en Orchard (met Wildekrans Wynwinkel). Waar
die Viljoenshoop pad na regs uitdraai, kan mens die Appletiser fabriek
op die Applethwaite plaas besoek, of die bekende Duncan's Roses, of
Pippin's Country House. As mens aanhou met die hoofpad kom ry mens verby
Two-a-Day / Kromco se reuse appel/peer pakstore (nou deel van die Tru-Cape
sinergie), en Paul Clüver se kelder, amfiteater, en gastehuis. Verder
aan is Houw Hoek se padstal regs, met die Houw Hoek Inn 'n ent van die
pad af na links, en 'n baie interesante eetplek op 'n plaas: Thandi se
plaaskombuis (oop vir ontbyt en middagete)
[Word vervolg]....
Lus om volgende
vakansie Kaap toe te gaan?? Klik
hier!
Op pad Kaap toe geniet 'n koppie boeretroos in
Ceres!
En as julle in die
Kaap aankom, gaan op 'n paar
daguitstappies!
|
 |