|
Dagsê
!
Ons was toe mos laas naweek Kruger Park toe. Uiteindelik na jare se
afwagting kry ek my luiperdfoto, nou is my
Groot 5 versameling van
fotos wat ek self geneem het voltallig. So ampertjies het ek nie daai
foto gehad nie, een van die mees selfsugtige mense wat ek nog teëgekom
het parkeer toe mos sy Merc reg op die enigste plek waar jy die luiperd
mooi kan sien, en hy STAAN! Geen ge-mooipraat, skel of wat nog kon hom
maak beweeg nie. Naderhand is daar 'n tou motors wat ook dieselfde
luiperd wou afneem wat toe al erg ongeduldig begin raak met die ou. Na
sowat 30 minute beweeg hy toe weg en kon ons ander toe ook die luiperd
afneem! Hier is 'n foto van die motor en sy nommerplaat, ek hoop hy sien
dit!
Asseblief tog, mense,
as julle op 'n gunstige posisie is om 'n foto te neem, doen jou ding en
beweeg aan, ander wil ook daardie geleentheid hê!!
In alle geval,
klik hier om van die fotos te sien wat ek in die park geneem het.
Ons het ook 'n
besonderse "blou maan" gesien, dit gebeur wanneer die maan vir die
tweede keer in een maand vol is. Ek het heelwat fotos van die maan
geneem, klik hier
om een van hulle te sien.
Hier is nou die
eerste van die artikels wat Tienie Holtzhausen vir my gestuur het, as
julle dit klaar gelees het, stuur asseblief vir haar
ePos
en laat weet wat julle daarvan dink! Kom ons gee vir haar lekker
terugvoer!
Seksbom in die
Boeing
Deur Tienie Holtzhausen
Pas klaar met my popspeeldae, kuier ek eendag by 'n vriendin, toe dié se
rooikop ousus daar inwaai in haar lugwaardin-uniform. Waar ek amper my
tong insluk. Want so 'n uit-die-boeke-dametjie is ons mense mos nie aan
gewoond nie. En stewig aan haar sy 'n breedgeskouerde visioen van 'n man
met vier dik goue strepe op die mou van sy lugdiensbaadjie.
Van toe af boer ek daar. Kan nie genoeg kry van al haar staaltjies en
stories oor romantiese eilande en ander verre eksotiese bestemmings nie.
En dan natuurlik daardie Adonis. As ek hoor hy kom weer vir vriendin se
suster kuier, gaan ek op woeste diëte en daag daar op in 'n nommertjie
wat al my sakgeld gekos het. Maar ten spyte van die beste voornemens om
soos 'n filmster te flankeer, sit ek hom elke keer net en aanstaar met
'n mond vol tande. Want om een of ander rede laat één kyk van sy kant af
my pure puisies en vetrolle voel.
Dié twee was lief om foto's te neem van al hul oorsese kapperjolle. Elke
nou kon ek die ekstras kry wat te veel was vir hul reeds oorvol albums,
en so begin ek my eie plakboek.
As daar 'n fliek is met net iets van 'n vliegtuig of lugwaardin daarin,
gaan kyk ek dit oor en oor. Terug by die huis, vir die hoeveelste keer
vasgegom voor my plakboek, droom ek dan ek's tien jaar ouer. En sien al
klaar hoe sweef ek soos 'n Hollywood-seksbom grasieus die vliegtuig se
gangetjie af - skaars bewus van al die passasiers wat my vreeslik
bewonderend aanstaar.
Iewers in my twintigs onthou ek weer daai droom. Veral toe dit duidelik
word ek't 'n werk wat nie werk nie, en 'n kêrel wat net wil vry - nie
trou nie. Toe hy boonop besluit hy hou meer van my wulpse niggietjie -
'n wintie blondinetjie pas uit matriek, bel ek die lugdiens, doen die
keuring, en kort voor lank teken ons kontrak.
Klaar met my opleiding, weet ek als van brande blus, uitheemse geregte,
fênsie grimering en hoe om veilig uit 'n vliegtuig te spring. Die
aankondigings is egter my spesialiteit. Ek ken hulle almal uit my kop.
As ek eers my stem so laag en sexy maak en stadig en gevoelvol begin
met: "Dames en here, welkom aan boord van vlug ..."
Elke haartjie in plek, my lyf gepommade en geparfuum, stap ek nogal
onseker en bang die eerste keer as volwaardige waardin die Boeing 737 se
trappe op. Soos dit by my indgedril is, stel ek my heel eerste aan die
kaptein voor.
Die man is toe alles waarvan ek nog altyd gedroom het. Van sy effens
silwerige slape tot by sy blouselblou oë. Oë wat ek kon sweer my heelwat
meer as net goedkeurend en waarderend bekyk.
"Geen nodigheid om te stres oor jou eerste vluggie nie, hoor," steel hy
my hart met sy hemelse glimlag wat 'n stel pragtige eweredige tande
flits. "En kom sê my dádelik as iemand met jou sukkel."
Met 'n kop vol romantiese gedagtes en skielike selfvertroue wat skrik
vir niks nie, handel ek gou my takies af. My bewerigheid heeltemal
vergete, maak ek toe selfs met 'n spoggerige wip in my stappie 'n paar
ekstra draaie in die vliegtuig se gange.
Ons gaan opstyg, jy kan maar begin met die verwelkomings, word ek
ingelig. Ek kry my sit en weet my oomblik van glorie het aangebreek.
Helaas. Die mikrofoon is morsdood. Eers dog ek ek druk nie die regte
knoppies nie. Toe gaan ek al die handleidings deeglik deur. Toets ook of
al die draadjies behoorlik vas is. Geen geluid nie.
Nie heeltemal afgesit nie, stap ek na die agterkant van die vliegtuig om
die noodmikrofoon te gebruik. Maar nee, hy is ook dood. En ek wil só
graag die oulike kaptein beïndruk met my mooi stem.
"Ek soek jou orals," hoor ek hom agter my praat. "Die liggie op my
paneel sê daar's fout met ons mikrofone. Werk joune dalk?"
Na 'n rukkie se gespook, gee hy moed op. "Maar dis darem gelukkig nie 'n
rede om die vlug te vertraag nie." Hy sit sy hand gerusstellend op my
skouer. "Stap saam, agter my stoel in die stuurkajuit is 'n groot rooi
megafoon."
Hy wys my hoe om, elmboog vorentoe, die sware kontrepsie op my bo-arm te
stut, en dan so naby moontlik aan die mondstuk te praat. Hy sê ook as ek
wil hê almal moet my hoor, moet ek liewers in die middel van die gang op
'n koeldrankkassie staan.
Maar, ontdek ek gou, die koeldrankkasies wat op vliegtuie gebruik word,
is heelwat hoër as dié wat ek ken. Toe ek heel onwaardig my staan op die
ding kry, voel ek erg ongemaklik. Want dit plaas my op 'n vlak waar my
bobene en die soom van my uniform se kort rompie net mooi ooghoogte vir
die sittende passasiers is.
Om te beweer ek het aandag getrek, is ligtelik gestel. En … niemand het
my in die oë gekyk die héle tyd wat ek besig is om my sê te sê op die
blikkerige en krakerige megafoon nie.
'n Halfuur later is ek wéér in die middel van die gang, hierdie keer
agter 'n trollie vol drankies. Skielik hoor ek die kaptein se stem
klokhelder oor die mikrofoon: "Dames en here, verskoon tog maar ons ou
lugwaardinnetjie wat haar aankondigings oor die megafoon doen. Dis haar
eerste vlug en sy's nog pure senuwees. As ons land sal sy oor die
mikrofoon praat, soos dit hoort."
|
UKkasie
Daar is
3 programme by UKkasie opgeneem en dit saai uit
7, 14 & 21 Augustus.
DKNT, Saterdae-aande, 19:30 op kykNET. |
|
|
HOENDERLEWER MET BYT
500g hoenderlewertjies
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
2 knoffelhuisies, gekneus
1 ui, gekap
5 ml borrie
90ml botter
12.5ml kerriepoeier of garam masala
1 stuk ± 1cm gemmer, fyn gekap
410g ( 1blik) tamaties, gekap
1 brandrissie, ontpit en fyngekap
200g bevrore of vars jong ertjies
vars koljanderblare(dhania) gesnipper
Soteer skoongemaakte hoenderlewers in botter in ‘n braaipan sodat dit
nog pienk binne is, maar verseël aan die buitekant. Geur met sout en
varsgemaalde swartpeper en skep uit. Hou eenkant.
Braai ui tot sag in panvet oor lae hitte. Voeg knoffel, gemmer, borrie,
kerriepoeier en rissie by.
Roer en laat 1-2 minute stadig prut. Voeg tamaties by en bring tot
kookpunt. Laat ongeveer 10 minute lank prut. Voeg ertjies net voor
opdiening by en geur met sout en varsgemaalde swartpeper en ‘n bietjie
suiker indien verkies. Sodra sous begin prut, voeg hoenderlewers en
bietjie koljanderblare by en laat prut tot deurwarm. Sit voor en garneer
met die res van die koljanderblare. |
|