|
Dagsê!
Ek weet nie hoe dit
daar by julle gan nie, maar ons twee honde het 'n menselewe! Die huis is
hulle s'n en hulle weet dit. Maar hulle gee ons eindelose plesier en pas
ons goed op. Die Bouvier is so skrikwekkend dat die ou wat nie bang is
vir hom nie sy kop moet laat lees.
Die volgende stukkie
is geskryf deur vriendin Rosi van Stellenbosch, hoop julle geniet dit
soos ek dit geniet het:
Hondelewe
Ons het twee opregte
honde. Hulle ma's en pa's was ook honde.
Eintlik is albei sypaadjie specials wat ons uit die hokke by die
dierebeskermingsvereniging gaan red het van 'n moontlike genadedood. In
albei gevalle was dit liefde met die eerste oogopslag.
George is die oudste (nou 13 jaar) en is 'n kruis tussen 'n malteser en
'n Toypom. Sagte wit hare, klein van postuur, lewendige swart ogies in
'n fyn gesiggie. Maar moenie dat dit julle om die bos lei nie. Hy skroom
nie om ander honde, mense van wie hy nie hou nie, of die posjong aan te
vat nie. Hoewel George hou van aandag, hou hy nie daarvan om vasgehou te
word of op iemand se skoot te sit nie. Indien dit wel gebeur dat iemand
hom vasgehou het, sal hy homself agterna verwoed skud om van alle
vreemde reuke ontslae te raak en elke vasgedrukte haar weer los te kry.
Hoewel hy die indruk van 'n patetiese hondjie skep, is hy baie dapper en
sal in gevaarsituasies aan die voorpunt wees om die' vyand' aan te val.
Wouter is jonger (nou 10 jaar), effe groter van postuur met sagte
krullerige bruin hare, swarterige ore en snor en die sielvolste twee oë
op hierdie ondermaanse. Hy is nou weer die liefdevolle hond wat almal te
alle tye met uitbundige vreugde begroet en as hy net die kleinste kansie
kry, op elke besoeker se skoot sal spring! Hy is baie jaloers en duld
dit nie dat George meer aandag as hy kry nie. Dan word George sommer so
met die boude weggestamp...nogal heel snaaks om te aanskou. Wouter se
geliefkoosde sitplek is sy ounooi (dis nou ek) se skoot. Hoewel hy
groter as George is en hom meestal domineer, is hy gladnie so dapper
soos George nie. As daar gevaar dreig of iewers 'n harde lawaai is, ken
hy net een pad en dis reguit na sy ounooi se skoot toe!
Hierdie twee brakke lei 'n regte hondelewe.
Saans as ons regmaak om te gaan slaap, gaan loop hulle gou hulle draaie
buite, blaf vir oulaas vir die buurt se honde en krap gou 'n paar vlooie
af, voor hulle hulle na ons kamer begewe. Synde daar net een
hondemandjie is, lê die een wat eerste daar kom, in die mandjie, en die
ander een spring solank op die bed. Peet moan sy gewone moan van: Brom,
brom, die honde moet daar onder slaap want hulle lê my bene so vas brom,
brom en dan kan ek nie omdraai nie en dan word my rug seer brom brom' .
Dan draai hy om en binne sekondes is manlief in droomland. Sodra dit
gebeur, kom spring hond nommer twee op die bed en elkeen wikkel vir
hulle 'n gerieflike plekkie los iewers teen 'n warm lyf. En so slaap
almal saliglik lekker tot môre oggend wanneer ek opstaan om te gaan
koffie maak.
Moenie dink dat hulle dan opstaan nie. Hulle rek en strek hulle uit en
steun van pure lekkerkry en wanneer die vlooie ook wakker word, begin
brakke lustig te knibbel en te krap. Eers na hierdie ritueel spring
hulle af om buite hulle dinge te gaan doen en die erf te gaan besnuffel
of daar nie dalk gedurende die nag 'n kat was wat hulle heiligdom betree
het nie.
Teen die tyd dat ons met ons koffie en beskuit doenig is, kom neem hulle
langs ons posisie in en staar ons afwagtend aan vir die laaste stukkie.
Hulle vrek oor beskuit. Die beskuitblik staan op die yskas en ek kan
letterlik net aan daardie blik raak, dan kom hulle aangehol.
Behalwe etes en aandag, het ons honde elke dag twee hoogtepunte. Die
eerste is teen tienuur wanneer die posbode die pos kom aflewer. Wanneer
die man by ons straat indraai, begin die straat se onderste hond te blaf,
en so kom die klank van hondehisteria soos 'n golf in die straat afgerol.
Vir die posman het ons honde 'n spesiale blaf. Soveel so dat selfs ek
met sekerheid weet dis nou die posman daar buite en ek kan maar gaan kyk
watse slegte nuus die wêreld daarbuite vir ons laat aflewer het.
Die tweede hoogtepunt is wanneer die koning van die straat verbykom, en
dit gebeur ten minste twee keer 'n dag...wanneer die koning uitgaan en
wanneer die koning terugkeer. Laat ek verduidelik. Aan die bopunt van
ons doodloopstraat woon 'n Alsation. Elke dag ry hy saam met sy baas
iewers heen. Hy sit op die voorste sitplek langs sy baas en kyk met
hovaardige houding na al die histeriese honde agter heinings wat
verbyflits. Wanneer hulle wegtrek is die hele buurt se honde al op hulle
agterpote en so gaan dit aan totdat die motor aan die onderpunt van die
straat wegdraai.
So nou en dan kom daar 'n bonus wat addisionele opwinding aan die dag
verskaf. Dalkies sal 'n kat met arrogante skrede dit in ons erf waag, of
miskien loop 'n blafwaardige karakter in die straat voor die hek verby.
Dan haal brakke die blawwe diep uit hulle ingewande uit en spoeg dit
verontwaardig en lankdurend in die rigting van die voorwerp van
irritasie.
Ons brakke kry nie vreeslike fensie kos nie. 'Pal' hondepille en water
is heeldag beskikbaar en hulle vreet maar so wanneer die lus hulle vang.
Maar moenie dink hierdie twee brakke eet soos normale honde nie. Wouter
is onbetwisbaar die baas. As hy eers by die pillebak sit, moet George
maar wag tot hy klaar is. Hy neem behoorlik by die kosbak plaas....ja,
hy sit....staan nie soos 'n kommen hond nie..... en so sit en vreet hy
tot sy pens vol is.
Dan kry George 'n beurt. Hy weer neem 'n bek vol pille wat hy dan op die
persiese matjie in die eetkamer neergooi. Dan rol hy op sy rug in die
pille...heen en weer tot die pille omiskenbaar 'n George geur het...of
hond dalk 'n pillegeur het. Dan neem hy 'n pil en gooi dit in die lug
op, bespring dit en rol weer 'n slag daarop voordat hy dit verorber. En
so gaan dit tot hy weer 'n bekvol pille gaan haal en op die mat neergooi..
Weird!
Nadat ons klaar aandete geëet het, aanvaar die honde dat hulle die
oorskiet gaan kry...veral as die kos na hulle mening lekker genoeg ruik.
Dan neem hulle weerskante van my plaas en staar my onafgebroke afwagtend
aan. As hulle lank genoeg wag sonder reaksie van my kant af, begin hulle
geluide maak. Dikwels is daar geen oorskiet nie, want hierdie Adendorffs
weet van bakke leegmaak. Maar sit sal hulle sit....tot ek desperaat en
geirriteerd met hulle vasberade geluide, my hande in die lug opgooi en
duidelik en afgemete sê: Die kos is KLAAR! Julle moet PILLE vreet!! Dan
word die sterte tussen die bene ingetrek en met kromgetrekte ruggies
gaan lê hulle net ver genoeg dat ek darem nog die verwytende skuins kyke
kan sien.
As daar die dag bene is, spring George op vier pote rond soos 'n jong
bokkie en gryp die aangebode been met 'n geniepsige hap wat soms my
vingers ook insluit. Wouter sit ordentlik en wag en kyk my met sy
sielvolle oë aan tot ek die been vir hom uithou. Dan neem hy dit netjies
en versigtig voor hy laat spaander na 'n kol ver van George af.
As dit koud is, soek brakke iewers 'n sonkol en lê dan so lekker styf
langs mekaar. As dit warm is, lê hulle in die badkamer se hoekie agter
die toilet. Dis seker die koelste plek in die huis? (Ek sal regtig nie
weet nie!) As die weer nie uiters na enige rigting neig nie, lê hulle op
die sitkamer meubels...tot Peet se groot frustrasie.
Omdat hulle lang hare het, moet hulle elke drie maande die 'poochy
parlour' besoek vir 'n was en sny. 'Kom ons gaan ry!' word aanvanklik
met groot blydskap begroet en dan spring hulle uitbundig en
stertswaaiend in die motor. Sodra ons halfpad is, begin hulle
onbedaarlik te bewe en sodra ons naby die hondesalon is, begin hulle
droewig te tjank. Dis seker wanneer die herinneringe aan die vorige trip
begin inskop!
Wanneer brakke later gehaal word, lyk hulle soos twee wafferse
rykmanshonde met strikke in die hare....of soos Peet sê, soos twee regte
moffiehonde! En hulle ruik seker ook vir mekaar soos moffies, want by
die huis wil hulle mekaar tot my ergenis net bespring!
Peet se grootste pret met die honde is om, wanneer hy uit was en
terugkeer, die toeter 'n paar keer te druk. Dan begin Wouter droewiglik
te huil. Met sy sielvolle oë na die hemel gerig, beklaag hy sy gepynigde
ore terwyl George met histeriese blaffies die uitvoering aanvul. Dan
weet die hele buurt dat Peet Adendorff tuis is.
En so gaan die dae verby. Brakke doen hulle ding en het vrede met die
wêreld. Solank hulle kos, 'n warm slaapplek en baie liefde kry, is hulle
doodgelukkig.
Wat 'n hondelewe!
En die een van
Elsabé:
Uit Hemelhout is ons
gesny,
'n klein ou skippie ek & jy.
Met liefde is ons neergesit,
op golwe groot & kruine wit.
Dit is 'n onbekende see,
waar Hy vir ons die rigting gee.
Met torings liefde langs die pad,
sal Hy ons om die rotse vat.
Hy het vir ons ook visgevang,
ons vasgehou in stormbang.
Hy het 'n hawe voorberei,
waar al Sy skippies veilig bly.
Skippie ek & Skippie jy..........
uit Hemelhout is ons gesny!
en van Annette:
Special Brekvis:
Ek het 'n special brekvis vi jou vindag:
'n glas fol omgee,
'n borkie fol liefde,
'n lepel fol vrede,
'n furk fol vertroue,
'n bakkie fol gebede
& niks maak vettie.
Maggi Jere jou so seen dat jou toointjies vuissies maak, jou ruggi nooit
jeukkie, jou badwater vi ure warim bly & jou traainkies van blygeit kom.
|
|