| |
Die Peter-jasie Patriot |
|
|
Nommer 3 |
'n Passie vir
Afrikaans |
17 Oktober |
|
Hallo almal!
Ek
skop af met nog 'n artikel deur Minette Brink, verbonde aan
Die Republikein,
die enigste Afrikaanse dagblad in Namibië. Sy het 'n natuurlike
skryfstyl wat lewe gee aan alledaagse gebeurtenisse. Lekker lees!
Vrotsige
fliekvlooie wees gewaarsku!
Minette Brink
HIER volg 'n vriendelike dog ferm waarskuwing: sou ek ooit weer gaan
fliek, sal ek 'n tradisionele wapen onder elke blad hê. Hetsy 'n
braaipan of 'n krieket- bat.
Dié skielike aggressie is veroorsaak deur die armsaliges van inbors wat
geen fliek-etiket ( of enige etiket, for that matter,) het nie. En wie
dan nie wil hoor nie. Dit kos deesdae meer as die twintig dollar om te
moewie. Dit kos harige tande. Nog voor jy die teater betree het, begin
die geveg. Want die beneukte vrou wat die kiosk beman, soek 'n waenhuis
se geld vir 'n vuurhoutjiedosie vol popcorn. Jy verbleek. Jy betaal. Net
om summier jou eetlus te verloor wanneer die kaartjieman so diep in sy
neus krap dat jy vir 'n oomblik wonder of jy nie 911 moet laat kom nie.
Maar dan hou hy dieselfde besmette vinger uit vir jou kaartjie. En jy
vlug heel naar die donkerte in.
Ek is 'n fanatiese fliekvlooi. Ek verander gewoonlik sestien keer van
sitplek voordat ek veilig voel. Dan straal ek met al my mag soveel
afwerende energie uit dat daar gewoonlik ën sirkel leë sitplekke om my
is. Want ek fliek in stilte en in vrede. Ek hou nie piekniek nie en ek
vry nie in die fliek nie. Maar helaas. Sodra die ligte uitdoof, stroom
die bendes en hul ellendes in. En om die een of ander rede word ek binne
sekondes omsingel deur die vyand. Afwerende energie ten spyte. En die
huil kom sit in my keel. Uit wanhoop.
Ons kry die tantes, min-of-meer gebou soos peperpotjies, wat opsluit in
spanne van drie opruk. Hulle sal al hardhorend die storielyn heen en
weer pass met gepaste tongklappe en kermgeluide van verontwaardiging. In
'n stadium sal een (of meer) van die peperpotjies òf aan die slaap raak,
òf die kleedkamer gaan opsoek. En dan, met die ontwaking of die
terugkeer, sal die res van die span omtrent spoeg en rondfladder om die
oningeligte te verlig. Teen daai tyd klop die are in my kop al baie
sterk. Maar ek bly stil. Want my aandag word afgelei deur die vent met
die verskrikte hare wat, natuurlik, reg voor my kom sit. Vyftig minute
laat. En ek staar aarkloppend deur die versteende graspol na die big
screen. Terwyl ek geleidelik bewus word van 'n ritmiese geknars aan my
regterkant. Die aar bars. Daar sal binnekort 'n wet ingestel word wat
fliekgangers verplig om hul popcorn te suig sodra die hoofprent begin.
Teen die tyd het ek alle belangstelling (en die storielyn) verloor. En
ek wonder waar het die gene verkeerd gekruis. Waarom is dit so moeilik
om net die ou tikkie konsiderasie te toon vir die besorgde fliekganger?
Los tog die pasgeborene by die huis. Gaan koester die nuutgevonde
tienerliefde elders. Wag vir die video. En sal die man met die skurwe
tone, wat heel gelate die genoemde tone aan weerskante van my sitplek
laat inskif het, asseblief verstik aan sy slush puppy. Ditto die sakeman(?)
wat sy transaksies per selfoon beklink.
Soos ek sê: volgende keer is ek gewapen. You have been warned!
As jy die artikel
geniet het, laat vir
Minette weet! |
|
|
'n Tikkie Humor |
|
Oubaas se "verspreuke" |
|
Almal het seker al van die Afrikaanse sepie op SABC2, 7de Laan gehoor.
Wel ek geniet Oubaas, gespeel deur Pierre van Pletzen se "verspreuke"
vreeslik baie,
hier is 'n paar van die bestes wat onlangs in Rapport verskyn het!
- As die kalwer in die put is, kan 'n man buitendien nie ploeg nie.
- Solank slapende honde sluimer, byt hulle nie
- Jong, as die koeël eers deur die konsistorie is....
- Dis makliker vir 'n kameelperd om deur die poorte van die hemel te kom
as 'n ryk
man...
- Die Kaap is nie meer Hollands nie, die boere het hulle al lankal
opgeneuk
- Moenie jou smels met my varke meng nie
- 'n Mens gooi nie 'n donkie tweekeer mer dieselfde klip nie
- Is jy man of muishond, hê?
- Jy weet wat sê die Tien gebooie, laat jou ja, ja wees, en jou nee,
nee.
- Francois Rossouw kan nooit sy sake uit ander mense se neuse hou nie
- Onthou die dwase maagde, moenie jou olielamp onder sy maatemmer
verberg nie
- Die doktertjie in Derde Laan is 'n regte kwak. behandel my soos 'n
proefplaas.
- Francois Rossouw gaan vanaand met die stoetram in my kennis maak.
- Netta Nortjé, matrone van die huis van beswaardes
- Die Rabe-susters doen weer die gedig van Mabalel wat so wreed deur die
likkewaan
voorgelé is
- Ek wou nie soos Judas by die vleispotte van Egipte sit terwyl daar
verraad in my
hart is nie
- Ek was soos Aaron tussen die leeus van Gadara. Daar was nie uitkomkans
nie
- Niemand kan meer sout aan my wonde smeer nie
- Ek is mos amptelik afgevaardig om die kookkompetisie te veroordeel
- Ek en Hildatjie gaan mos eersdaags oor die tou trap
- Jy is 'n vrou van inborste, Hildatjie, en soos 'n rasegte pedigree
vrieskoei is jy jou
gewig in goud werd
- Ek is nou so ontsteld, 'n slang kan my maar vang
|
|
Hoe lyk dit, kan ons
nie van ons eie "verspreuke" maak nie? As jy enige by die lys hierbo kan
aanlas,
stuur vir my, asb! |
|
Die Resep |
|
Hoe lyk dit met iets
heel besonders die keer, probeer gerus hierdie Kaiingbrood! |
|
Die geheim is om die
kaiings reg uit te braai, nie almal weet so mooi hoe nie, maar dis
hoekom ek nou hier is!
Kaiings kan van die vet van enige slagdier gemaak word. Sny die vet af
en maal dit met 'n growwe meul. Verhit in 'n kastrol met 'n bietjie
water dat die vet smelt en laat die vet maar lekker uitbraai, hy vorm
vanself kaiings. Party mense gooi bietjie melk by, maak glo 'n mooier
kaiing. Die kaiings is die stukkies wat op die warm vet ronddryf, skep
dit dadelik af en dis reg vir gebruik. Wanneer jy bak daarmee moet dit
eers weer gemaal word, die keer met 'n fyn meul.
Die broodresep
2 teelepels droê gis
2 teelepels suiker
3 koppies lou water
7 koppies broodmeel
2 teelepels sout
3 teelepels sagte varkvet
500g kaiings
Los
die droë gis en suiker op in 1 koppie van die lou water. Roer 1/2
koppie van die broodmeel by. Bedek en hou warm sodat dit kan gis (een
uur)
Sif die meel en die sout saam. Maak 'n holte in die middel en voeg die
suurdeegmengsel daarby. Knie nou goed totdat die deeg mooi skoon afkom
van die hande.. Voeg die orige lou water geleidelik by terwyl jy knie.
Knie die sagte varkvet goed deur en voeg dan die gemaalde kaiings by.
Knie baie goed. Bak teen 180 ºC vir 45 tot 60 minute. |
|
|
|
|
|
Brokkies |
|
Boeremusiek
Die Boeremusiekfees
by Rooihuiskraal op die 11de Oktober was toe 'n groot sukses!
Dit was 'n dag van musiek, lekker eet, daar was gedans en gesels,
soos net ons mense kan! Ek het heelwat fotos en video geneem, 'n paar
van die fotos is hier.
Ek was nog nooit 'n groot boeremusiekliefhebber nie, maar 'n mens
kom tot ander insigte as mens goeie musiek lewendig hoor. Sjoe,
party van die orkeste kan darem SPEEL, hoor! Hou maar Kalie se
webwerf
dop vir nuus van verdere byeenkomste en sorg dat jy daar is!
|
|
|
|
|
Diëet
Ag nee wat, genoeg
is genoeg! Ek noem to mos laaskeer van die diëet waarop ek is! Het net
'n week gehou, dis nie kos daai nie! Ek en dogter, Lorraine, het
nou by Weight Watchers aangesluit, kom ons kyk of DIT werk! My teiken om
te verloor is 6 kilogram, klink nie te erg nie! |
|
|
|
|
Video
Ek het al 'n geruime
tyd 'n digitale videokamera en die nodige sagteware om soort van
behoorlike moewies te maak. Het nog net nooit die tyd gehad om tyd
daaraan te spandeer om die ding behoorlik te doen nie. Ek dink die tyd
is nou ryp ek ek gaan rondspeel met die video wat ek by die
boeremusiekdag geneem het. Hoe lyk dit met Suid Afrika se eie Spielberg? |
|
|
|
|
.Ek sal enige
terugvoer en/of voorstelle waardeer!. dankie - Peter |
|
| |
|
|
|
Kontak -
Teken in/uit |
Epos:
peter@funkymunky.co.za
Teken in en uit onder aan hierdie bladsy:
Peter-jasie |
|
|