| |
Die Peter-jasie Patriot |
|
|
Nommer
29 |
'n Passie vir
Afrikaans |
7 Mei |
|
Dagsê!
Diere is baie
slimmer en het baie meer insig as wat julle dink, lees nou maar die ware
verhaal geskryf deur Johan Brink, hieronder:
Ek is nou stadig
besig om uit my hibernasie te kruip, en ek dag toe ek kan die nuutste
vertel van my kat en my skoonma.
Kyk, die kat is nou so 7 maande oud, en hy is seker amper uitgegroei. So
’n mooi swart-en-wit [gewese] mannejieskat,
en deur almal in die huis bederf tot in die grond toe.
Deur almal nou, behalwe skoonma. Die ou tannie lê nou al 3 jaar
permanent by ons tot my groot frustrasie. Sy is ’n regte misogeen: niks
is goed nie, en niemand beteken iets nie, en oor elke ding kry sy iets
om oor te bitch. By dit alles nog het sy ’n regte fobie vir katte. Dit
is nie nou net dat sy nie van hulle hou nie, sy is genuinely bang vir
katte.
Nou kry ons die klein katjie Novembermaand, en soos dit met sulke dinge
gaan, is die kat die hele huis vol, spring op alles, snuif aan alles en
sommer oor
die algemeen ondersoek hy nou die nuwe wêreld. So spring hy dan ook een
dag op die ou tannie se bed, maar waar gaan sy nie ballisties hieroor
nie. “Die kat
is op my bed! Kom haal dit af hier! Wat ’n mislike dier! Hy probeer my
aanval!” En so en so en so. Ad nauseam.
Die kat steur hom egter glad nie aan die lawaai nie, en elke dag sou hy
ten minste een keer op haar bed spring, en elke keer het ons die
histerie.
Maar so af en toe spring hy op die bed as sy slaap; dan as sy weer haar
oë oopmaak, dan sien sy daar lê die kat by haar voete. Opgekrul, sy
pienk snoet op sy pootjies, en oor die algemeen die toonbeeld van
tevredenheid en onskuldigheid en skadeloosheid. Dit is amper of hy
doelbewus ’n projek aan die gang het om haar te probeer bekeer.
Toe so 3 weke gelede, toe gaan Katman in fase 2 van sy projek in: hy
gaan elke aand by haar op die bed slaap. Laat, as sy nou al slaap en die
kamer is donker, dan spring hy op die bed en krul op by haar voete.
En dit is nie sommer net ’n verbygaande gril nie, nee. Hy dring daarop
aan om daar te gaan slaap. As jy hom wegdra en op ’n ander plek gaan
neersit, dan woeps spring hy dadelik af en draf terug na haar kamer toe.
Een aand was haar deur toe en toe sit die kat ’n groot kabaal op totdat
ons die deur oopmaak en hy kan gaan lê op die bed. Soggens dan staan hy
saam met my op vir
sy brekfis, maar dan gaan hy dadelik terug na die ou tannie se bed toe
vir hoofstuk 2 van die slapery. As sy dan so teen 10-uur haar oë open
dan is die eerste ding wat sy sien vir Katman wat prrprrprr by haar
voete lê en vir haar met skreefogies bekyk. Ek dink toe dat selfs vir
haar het die storie van die kat wat vir haar die hele tyd dreig begin
belaglik raak.
Maar nou so met fase 2 saam het haar weerstand ongemerk en baie
geleidelik begin verkrummel. Die gebitch oor die kat op die bed het
naderhand heeltemal
opgehou.
En toe: so 10 dae gelede toe loop en ek Marian al pratend laat in die
aand na ons kamer. En daar kom dit toe uit haar kamer uit: “moenie so
raas in die gang
nie. Die kat slaap al”.
Jou wragtag.
Jy kon my omtik met ’n veertjie. ’n Veertjie, sê ek. Die-kat-slaap-al
het sy gesê.
Maar dit is nog nie die einde nie: twee aande later toe is Marian besig
om haar ma reg te kry vir die nag, en toe reken die ou tannie: “help nou
net vir my dat
ek my voete so bietjie meer na die kant van die bed skuif. Dan is daar
meer plek vir die kat en dan pla ek hom nie”. Can you believe THAT,
Mavis?
Toe ......... fase 3 van Katman se projek. Vrydagaand: laat in die nag,
en almal slaap. Skoonma sit-lê altyd so in haar bed met haar kop bo-op
’n stapel kussings. Marian gaan hier teen 2-uur daar loer of alles oukei
is, en wat sien sy toe? Katman het besluit om nie meer by die voete te
lê nie, maar hy het gaan slaap bo-op die stapel kussings tussen haar ma
se kop en die muur.
Lekker lankuit; dit lyk amper of die ou tannie ’n stola bokant haar op
die kussings gedrapeer het.
Marian skrik toe haar vrek, want sy dink as die ou tannie wakker word
met die kat so naby aan haar, dan paas sy net daar uit. Sy wil toe die
kat daar wegvat,
maar voor sy dit kon doen sê haar ma [wat die hele tyd toe nie geslaap
het nie]: “Los uit die kat. Hy slaap nou lekker”.
Toe is daar nog ’n fase 4 ook, wat einlik ’n halwe antiklimaks is. Die
kat het gisteraand op die bed gespring en die ou tannie se hand gelek.
Sy wou toe
weet waddehel dit nou is, maar toe wys ek vir haar uit ’n boek uit:
“licking one’s hand is a sign of affection”. Ek sê kyk daar, die kat wys
dat hy van jou
hou.
Nou sit ek en Marian gisteraand en praat oor twee dinge wat in hierdie
episodetjie uitstaan:
1. Die kat het met sy volharding saam iets reggekry wat geen mens in die
onlangse verlede kon regkry nie: hy het die ou vrou se klipharde hart
vermurwe. Daar is nou skielik iets wat heel ongevraag en heel
onselfsugtig vir haar affeksie toon, en nou vrek sy oor die bleddie kat.
Saans vra sy nou maar wanneer kom hy dan nou slaap dit is dan al so laat,
en so.
2. En dan die vraag: waarom het hy dit hoegenaamd gedoen? Dit is nie dat
hy aandag gesoek het of verveeld was nie, want daar is gedurig mense in
die
huis, en almal gee aandag aan hom en gee kom kos, en so. Hy is nou al so
bederf dat hy amper ’n mens is. By die ou tannie het hy vir die grootste
deel van sy lewetjie net raas gekry en sy het die hele tyd vir hom
geprobeer wegjaag. Kos of so iets het hy nooit daar gekry nie, en ek is
seker dat sy nooit eers geprobeer raak het aan die kat nie.
Nou waddehel het in sy kop aangegaan? As hy nou ’n mens was sou mens kon
reken hy het die ou vrou wat die hele dag daar alleen lê met min
geselskap en niemand van buite kom vir haar kuier nie dalk jammer gekry.
Maar kan ’n kat iemand jammer kry? Êêêk weet nie?
|
|
|
'n Tikkie
Humor |
|
Nog 'n Gertjie grappie, spesiaal vir Minette: Onlangs sit
die diere van Afrika langs 'n Hardekoolvuur by die Olifants en stry oor
wie is nou eintlik die beste in dit en dat. Na 'n ruk is Koning Leeu
goed dik vir die spulletjie, en nadat hy 'n goeie sluk uit sy blikbeker
gevat het, roep hy hulle tot orde.
"Kyk," sê hy vanuit die hoogte, "ek het nou genoeg gehad. Volgende
Saterdag pak julle mekaar op die rugbyveld. Die groot diere speel teen
die insekte en ander goggas. Sekretarisvoël sal skeidsregter wees."
Die hele week was dit 'n groot geskarrel om alles reg te kry. Spanne is
gekies, en die diere wat nie betrokke was nie, het die veld reg gekry.
Teen Saterdag was daar 'n feestelike stemming.
Toe Sekretarisvoël sy fluitjie blaas, was die pawiljoene gepak. Die
spanne draf op onder luide toejuiging. Eers die groot diere: Heelagter
- Koedoe, Vleuels - Rooibok en Hartebees, Senters - Njala en Duiker,
Losskakel - Springbok, Skrumskakel - Klipspringer, Agtsteman - Eland,
Flanke - Buffel en Blouwildebees, Slotte - Kameelperd en Sebra, Stutte
- Olifant en Seekoei, Haker - Renoster(kaptein). 'n Formidabele span in
enige ou se boek.
Toe die insekte opdraf, raak die skare histeries: Perdeby, Vlieg en
Naaldekoker, Muggie en Muskiet, Skoenlapper, Vlooi(kaptein), Kakkerlak
en Rysmier, Stokinsek en Hottentotsgod, Miskruier en Toktokkie, met
Bosluis op haker.
Net voor die afskop is daar 'n verbyvlug van verskillende voëls, in 'n
verskeidenheid van formasies. Nadat 'n klomp tortelduiwe seremoniëel
vrygelaat is, kom 'n gompou gevaarlik laag oorgevlieg, met 'GO BUGS'
onder sy vlerke geverf. Natuurlik, alles tot groot vermaak van die skare.
Van die afskop af sukkel die insekte hul vrek. Dinge wil nie vlot in die
skrums nie. Kameelperd oorheers die lynstane. Buffel is genadeloos in in
die losspel. Die groot diere wen elke bal. As hulle met die voorspelers
dryf, is Olifant en Seekoei onstuitbaar. As hulle wyd speel, is daar
geen keer aan Haretebees, Rooibok en Koedoe nie. Hulle druk drieë asof
dit uit die mode raak. Springbok skop net nie mis nie. Rustyd is die
telling 50-0.
Na rustyd lyk dit of Vlooi se hardpratery gehelp het. Daar is nuwe lewe
onder die insekte, en hulle druk die ou groottes meters terug in die
skrums. Duisendpoot wen balle agter in die lynstaan. In die losskrums
gaan dit verwoed, en hulle begin daar oorheers. Die bal gaan seepglad
met die agterlyn af, en Muggie, Perdeby en Naaldekoker begin die drieë
inryg. Muskiet se skopskoen is dodelik. Skoenlapper dartel deur die
verdediging. Duisendpoot duik die groottes disnis - selfs Kakkerlak, wat
'n stillerige eerste helfte gehad het, lak die dinges uit hul uit.
Twee minute voor die einde klits Skoenlapper 'n skepskop oor, en die
telling is 51-50! Van die inskop af dryf die groot diere verwoed.
Renoster kry die bal 5 treë van die doellyn af, en gáán vir die hoekvlag.
Met 'n bomenslike poging duik Duisendpoot hom op die hoekvlag uit. Die
eindfluitjie blaas. Die skare se vreugde ken geen perke nie.
"Waar was jy in die eerste helfte, toe ons so
gesukkel het?" vra Vlooi vir Duisendpoot toe hulle afstap.
"In die kleedkamer, besig om my stewels vas te maak!"
|
|
|
Die Resep |
|
Ons voeg amper enigiets by brooddeeg om met 'n anderste brood vorendag
te kom. Probeer hierdie een as bykos met die volgende braai |
|
Beesstertbroodjie
1 pak (500g) bruismeel
1 pakkie beesstertsoppoeier
1 houer (500ml) karringmelk
125ml gerasperde kaas
knypie rooipeper
Metode:
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer 'n broodpan (20 x 14 x 7cm).
Meng die bruismeel, soppoeier en karringmelk goed saam. Skep die deeg in
die pan en maak dit gelyk. Strooi die kaas en peper oor en bak 1 uur
lank op die middelste oondrak. Keer op 'n draadrak uit en laat afkoel.
|
|
|
Afrikaanse Lied |
|
Hier is iets nuuts! Vriendin, Melaney wat in Melbourne woonagtig is
stuur vir my nou die dag die skakel na 'n webwerf wat Afrikaanse midi's
op het asook die woorde van 'n hele klomp Afrikaanse volksliedere.
Johann Lochner, die eienaar van die webwerf verleen toe goedgunstiglik
toestemming dat ek van die woorde vir my nuusbrief kan gebruik. As julle
self wil gaan kyk,klik op die skakel:
Ons
Blêrkas van Afrikaanse Volksmusiek |
|
AFRIKANERLIED
Woorde: H.A. FAGAN
Musiek: JOH. PETERS; verwerk: G.G. CILLIÉ
By die ruwe Kaap van storme, waar die oseane bots
en van oos en wes die golwe worstel om hul bakenrots,
waar die maagdelike velde nog in skuwe skoonheid bloos,
dit is waar jul wieg gestaan het, stoere Afrikanerkroos,
dit is waar jul wieg gestaan het, stoere Afrikanerkroos.
Werk en stryd was julle erfdeel, wat die vaderland jul gee,
maar waardeur jul arm gespier is en jul hart tot staal gesmee.
So gehard en so getemper, trek hul heen oor berg en vlei,
en herskep tot tuin van Eden Afrika se woesteny,
en herskep tot tuin van Eden Afrika se woesteny.
Elke vyand moes getem word wat jul opmars wou betwis:
die natuur se wilde kragte, die barbaar se sluwe lis.
En geen mag van vreemde wapen, geen verow'raar sal jul vrees:
nimmer in 'n slaaf se boeie rus die Afrikanergees,
nimmer in 'n slaaf se boeie rus die Afrikanergees.
Voorwaarts dan, getrou en wakker, moedig, kragtig steeds vooruit!
Geen geweld, geen dwinglands woede sal jul ideale stuit.
Laat jul roep oor berge dawer, oor die vlaktes voortgedra:
Ewig hoog die vryheidsvaandel, stoere kroos van Afrika!
Ewig hoog die vryheidsvaandel, stoere kroos van Afrika.
|
|
|
Brokkies |
|
Studiebeurse
Glo dit ofte nie, maar internasionale maatskappye stel letterlik
honderdduisende studiebeurse beskikbaar vir enigiemand wat wil gaan
studeer! En jy hoef nie eers te soek daarvoor nie, dis alles in een gids
beskikbaar. Maar moenie my glo nie,
gaan kyk self! |
|
|
|
|
Potjiekoskompetisies, reëls en beoordeling!
Klik hier! |
|
|
|
Die Danville Hulpgroep
is nou ook betrokke by die
President Kruger Kinderhuis en die Margaretha Ackerman Tehuis
(Die
Danville Hulpgroep) |
|
|
|
|
Ek is ook op soek
na nog Kermiswenke,Klik
hier! |
|
|
|
|
.Ek sal enige
terugvoer en/of voorstelle waardeer!. dankie - Peter |
|
| |
Druk jou speld op my besoekerskaart! |
|
|
Kontak -
Teken in/uit |
Epos:
peter@funkymunky.co.za
Teken in en uit onder aan hierdie bladsy:
|
|
|