|
Dagsê!
Die groot nuus is
dat Nianell se nuwe CD vanaf 1 Maart by musiekwinkels te koop sal wees!
Ek kan nie wag nie, en te oordeel aan haar eerste CD "Who painted the
moon?" gaan die een ook 'n treffer wees! Ek doen 'n
"fansite " vir Nianell,
al die fotos daarop het ek self geneem by haar vertonings. Haar
amptelike weberf is
hier.
Dis skrikkeljaar!!
En soos gewoonlik het Minette op haar eie manier iets daaroor te sê:
DIS Skrikkeljaar,
Dames, en vir die wat nie weet nie, die jaar waarin ons die Vraag mag
vra.
Die legende lui dat hierdie tradisie sy oorsprong in die 5e eeu in
Ierland gehad het, toe Sint Bridget (sien, daar ís vroulike heiliges!)
by Sint Patrick gekla het oor die mans daai tyd al so lank gevat het om
op hulle knieë neer te val en die ja-woord te vra.
Sint Patrick, wyse man wat hy is, sê toe dat vrouens voortaan op die 29e
Februarie die vrawerk mag doen omdat dié dag volgens die engelse
regstelsel geen wettige status gehad het nie en gevolglik die ideale dag
was om ‘n verouderde en onregverdige gebruik reg te stel.
In 1288 is ‘n wet in Skotland aanvaar waarin vrouens toegelaat is om
gedurende Skrikkeljaar “trou-met-my” te prewel. Die beste deel van dié
wet is dat enige man wat so ‘n huweliksaamsoek sou weier (en nou raak
dit lekker), ‘n boete moes betaal wat wissel van ‘n boetedoeningskus of
‘n paar syhandskoene. (Ek sou raai dat die meeste vrouens die laaste
opsie sou kies, want wie wil nou gesoen word deur die symste man wat pas
jou aansoek afgelag het?)
Die Grieke waarsku egter dat ‘n mens nie in ‘n Skrikkeljaar moet trou
nie, aangesien die paartjie vir ewig verdoem sal wees.
Daarom, Dames, is dit nou die tyd om tot aksie oor te gaan.
Ek wil die liefde in die lug terugsit en ek gaan nou ‘n hoekie vir
eensames in Namibië begin.
Na aanleiding van die menigte klagtes wat ek sedert verlede jaar moes
aanhoor, het ek dit goed gedink om dié in nood by te staan.
Belangstellendes van beide geslagte kan skryf aan: Onder die Dekmantel,
Windhoek, en briewe moet in die volgende formaat wees met die inligting
soos aangedui:
‘Poppeloppie van Windhoek is ‘n 50-jarige enkelma van twaalf wat (al
weer) op soek is na haar sielemaat. Mans wat hou van kosmaak, die natuur,
dans, musiek, rofstoei, motors, kinders, tuinmaak, kleremaak, huishou,
bederf, groot geskenke koop, braai, vrugte inlê en visvang, moet dadelik
skryf. Geen rokers, drinkers of kansvatters. Ek is ernstig, met roesrooi
skouerlengte hare en ligpers oë, 1.3 meter lank en weeg 378 kg.’
Of: ‘Damduiker van Drimiopsis is ‘n 104-jarige manlike skuba-entoesias
met geen onafhanklikes. Dowwe blou oë, geen hare, eie tande, stewige bou
en bankbalans. Dames tussen die ouderdomme van 75 en 100 met eie vervoer
en geldige rybewyse kan skryf. Foto’s is verpligtend.’
Om sake vir die vrouens met voornemens verder te vergemaklik, bied ek ‘n
paar goue reëls aan om, hopelik, mans beter te kan verstaan:
Sportuitsendings, veral op Saterdae, is soos volmaan of die verandering
van die getye. Aanvaar dit. En as jy iets moet vra, doen dit tydens die
advertensies.
Om inkopies te doen word nie as ‘n sportsoort beskou nie en nee, mans
gaan nooit hulle opinie hieroor verander nie.
‘n Tranedal is niks anders as afpersing nie en vra as jy iets wil hê,
want skimpe werk nie.
As jy dink jy is oorgewig, is die kanse goed dat jy wel ‘n paar kilo’s
moet afskud. Moenie die man daaroor vra nie.
Alle mans kan net ‘n handvol kleure onderskei. Appelkoos is ‘n vrug,
turkoois is ‘n gesteente en geen man het ‘n idee wat mauve is nie.
Moet nooit, nooit ‘n man dwing om tussen jou en sy motorfiets te kies
nie, want die kans is goed dat jy gaan verloor.
As ‘n man jou vra wat fout is, moenie sê: niks nie. Die man weet jy jok,
maar is nie lus om die moeite aan te gaan nie en sal aanhou optree asof
daar niks fout is nie.
Christopher Columbus het nie rigtingaanwysings nodig gehad nie en daarom
het geen man dit nodig nie.
En Dames, die laaste, maar volgens die manne die belangrikste reël: ‘n
hoofpyn wat sewentien maande duur, is nie normaal nie. Maak ‘n afspraak
by die dokter.
Ek neem aan Windhoek sal op 29 Februarie leegloop, want al die
enkellopende mans sal skielik onthou van belangrike sake in die
buiteland en met hulle terugkeer gelaai wees met boksevol syhandskoene…
Dankie Minette! As
julle meer van Minette se artikels wil lees, klik
hier!
As julle van die artikel hou, stuur vir Minette
epos en sê vir haar
so!
|
|
Berig:
'Die dokters is buite die hospitaal saamgetrek vir 'n betoging.
Die hospitaalbestuur kon nog nie vasstel waaroor hulle griewe handel nie.
Hulle gaan nou 'n apteker stuur om te sien of hy nie dalk kan lees wat
op hulle borde geskryf staan nie.'
Die onderwyseres gee haar graad 5's 'n werkopdrag: Hulle moet hulle
ouers vra om hulle 'n storie met 'n les aan die einde daarvan te vertel.
Die volgende dag kom die kinders toe terug en begin een vir een hulle
stories te vertel. Vinesh sê: 'My pa is 'n hoenderboer en ons het baie
broeihenne. Eenkeer het ons die eiers in 'n mandjie op die kar se
voorste sitplek gesit om dit mark
toe te vat. My pa slaan toe remme aan, die mandjie val om en al die
eiers breek in die kar!' 'Mooi, Vinesh', sê die juffrou, 'wat is die les
van die storie?' 'Moenie al jou eiers in een mandjie sit nie!' sê die
trotse seuntjie. 'Baie goed,' sê die onderwyseres.
Volgende is dit klein Sipho se beurt. 'Ons het nou-die-dag berg toe gestap
en toe sien ons 'n muis wat uit sy gaatjie kom.' 'O?', vra die juffrou,
'En wat is die les van die storie?' 'Die berg het 'n muis gebaar,
Juffrou!' sê Sipho. 'O, jaaa, dis seker waar,' sê die onderwyseres.
Volgende is dit klein Kosie se beurt. 'Juffrou, my pappie het my vertel
van Antie Susanna wat verlede jaar op hulle plaas aangeval is. Toe sy
hoor die alarm by die heiningdraad gaan af, toe besef sy hulle gaan die
duur bottel brandewyn steel wat sy nou net op die dorp vir oom Koos as
'n present gekoop het. Toe drink sy gou die bottel leeg. Toe vat sy die
haelgeweer, patrone en 'n vleismes en wag hulle by die deur in. Toe
hulle inkom in die huis, skiet sy vier met die haelgeweer dood, steek
twee dood met die kombuismes, en slaan die laaste een katswink met die
vuis!' 'Oe, maar dis vreeslike storie!' roep die onderwyseres uit, 'Watter
soort van les kry jou pappie uit so 'n aaklige storie?' Kosie antwoord:
'Bly ver weg van Antie Susanna as sy gesuip is!'
|
|