| |
Alida
Fourie
Hier is 'n heerlike hoenderpotresep. Dit is baie lekker.Veral om die
kampvuurtjie. Ek en my man is self baie lief vir kamp en die pot bly 'n
wenner.
Liplekker Hoenderpot
250 ml vars room
2/3 groot uie
1pk hoender (1kg pak)
8 med aartappels
500g gemengde groentepak
500ml lemoensap
1pk heuning en mosterdsous (cook-in-sauce)
Braai uie tot bruin,voeg hoender by en braai tot ligbruin.
Voeg aartappels, groente en bietjie water by. Voeg sap en room by. Voeg soos
laaste by.
Laat oor matige hitte prut.
Tamatie Bredie
Hierdie is 'n tradisionele Suid-Afrikaanse resep.
25 ml botter of margarien
2 groot uie, gekap
1 knoffelhuisie, gekneus
1.5 kg lamsvleis of skaapvleis in blokkies gesny
10 ml sout
bietjie aftreksel, water of wyn
500 g aartappels in skywe gesny
1 kg medium tamaties, geskil en gekap
5 ml witsuiker
2 ml gedroogde tiemie
5 ml gekapte vars marjolein (marjoram)
Verhit die botter in 'n pan en braai die uie en knoffel vir omtrent 5 minute
of tot die uie deurskynend is. Voeg vleis by en braai vinnig tot bruin aan
alle kante. Voeg sout, peper en bietjie van die aftreksel, water of wyn by
en prut, bedek, vir 90 tot 120 minute of tot die vleis begin sag word. Voeg
die aartappels, tamaties, suiker, tiemie en marjolein by en kook vir nog 'n
uur. Bedien met rys.
Andri Ford
Ontbytpotjie
Oorskiet braaivleis in blokkies gesny
Uie
Blikkie tamatiesmoor
Maalvleis
Gesnipperde spek
Groen rissie
Sampioene
Klein blikkie boontjies in tamatiesous
Eiers
Kaas
Sommer enigiets waarvan jy hou
Braai uie, groen rissie, sampioene .Voeg vleis daarby en braai. Voeg
tamatiesmoor en boontjies(baked beans) by en laat prut. .Geur met
sout, peper, speserye. Breek eiers bo-op en sit deksel op om gaar te word. Rasper
kaas bo-oor en as dit gesmelt is, dien op op ‘n broodjie of enige oorskiet
stysel, wat ookal byderhand is .
Sodoende word die oorskiet braaivleis nie gemors nie, en enige kombinasie van
bestanddele kan gebruik word. Basies enigiets waarvan jy hou .
Annette se
Blikpotjie
1 x groot blik ingelegde iets.
Sny blik oop, maar nie heeltemal nie, sodat die deksel weer kan terugvou as
bedekking wanneer kos op vuur gesit word.
Gooi inhoud uit en hou of eet soos verkies.
Plaas in leë blik:
1/3 koppie rys.
1 koppie water
1/2 fyngesnyde ui.
1 klein aartappel, in blokkies gesny ( opsioneel)
1/2 koppie gekerfde groente ( wortels) ( opsioneel)
sout.
100 gram maalvleis/ bully beef ( fyn opgesny)
Plaas blik op vuur en kook totdat rys gaar is.
Voeg water by indien nodig.
Roer indien nodig.
1 Groot maaltyd vir 1 - 2 mense.
Arm man se potjie.
Baie lekker.
Skaappotjie
· 4
- 5 kg skaapnek/skaapskenkels
· 4 uie of 20 klein uitjies
· vars groente in blokkies gesny:
botterskorsie, baby marrow,
wortel, baba geelpampoentjies, baba aartappels, sampioene
Sous:
· 5 pakkies soppoeier (chilli beef of bruin uiesop in 3 liter water)
· 8 teelepels kerrie (of na smaak)
· 1 bottel chutney
· knoffelvlokkies
· ander kruie en speserye na smaak
Braai ui in biejtie olie in pot en verwyder.
Braai vleis tot bruin. Voeg warm water by en prut vir 1 uur.
Hou dop dat dit nie droogkook nie. Voeg aartappel en wortel
by, prut 'n halfuur, voeg res van groente by en prut nog 'n halfuur. Maak
sous aan en voeg by, laat prut nog 20 minute. Kook solank die rys gaar.
· 5
koppies rys
Biltongpot
Ook 'n baie vinnige en heerlike gereg en niks hoef ontdooi te word nie...
hoop die biltong is nog nie opgeëet nie!
• 6 Uie, gekerf
• 5 Pakke 250g sampioene of 5 blikke 410g geroomde sampioene
• 1 kg Biltong
• 5 Blikke pitmielies of geroomde 'sweet corn'
• 5 Pak noedels (gaargemaak)
• 2 Groen rissies, in repies gesny
• 5 pakkies witsous of kaassous, word met kookwater aangemaak (5 boksies
langlewe room kan ook gebruik word ipv sous)
• 5 koppies gerasperde cheddarkaas (opsioneel as jou kaas al op is)
Braai uie en sampioene. Voeg groen rissies, mielies en biltong by. Voeg
gaargemaakte noedels by. Gooi sous of room oor. Plaas laaste die kaas bo-op.
Hou pot op stadige kole totdat die kaas gesmelt het.
Die ander stuk raad
is om nie te veel met die bestanddele in die pot te vroetel nie, anders sit
jy met 'n pappery. Vleis kook eers sag, dan kom die groente in lae by. Dan
een vinnige roersel voor opskep oor rys of stampmielies. Maar kom ons kom by
die kos uit. (Alle resepte is vir die nommer 3-driepootpot en min of meer
genoeg vir ses mense. Onthou dat die pot nooit meer as driekwart vol kos
moet wees nie anders gaan daar nie genoeg stoom opbou om als te laat kook
nie.)
Beesstertpot
Ryk, vleiserig en lymerig. Dit neem lekker lank neem om te berei en gee jou
die ideale geleentheid om agter te kom waaroor potjiekos eintlik gaan.
3 e kookolie
1 beesstert, in litte gesny
1 gekapte ui
2 fyngekapte knoffelhuisies
500 ml droë rooi wyn (onthou, as dit nie goed genoeg is om te drink nie,
kook jy nie daarmee nie)
2 lourierblare
2 teelepels sout
1 e gedroogde roosmaryn
1 e gedroogde pietersielie
'n paar draaie van die swartpeperpot
6 middelslag-wortels, geskil
4 selderystingels met blare, in stukke gesny
3 bakhande vol vars of bevrore ertjies
Goed, nou kry jy jou pot lekker warm langs die vuur of met 'n paar vlammende
kole onder hom. As jy 'n paar druppels wyn ingooi en hy sis duidelik, is die
pot warm. Met die warm kole onder, gooi jou olie in en braai die beesstert
bruin. Gooi dan jou uie by en roer die hele spul totdat die uie deurskynend
is. Plaas pot nou weg van vuur met net genoeg kole onder sy pote om hom warm
te hou. Gooi alles behalwe wortel, seldery en ertjies by. Nou is dit tyd om
jou potbeheer te toets, want nou gaan die deksel op die pot geplaas word en
hy gaan vir minstens vier tot vyf uur so staan. Hou jou oor naby die pot.
Borrel als, is die kole te warm - krap weg. Jy behoort net so 'n
gerusstellende borrelgeprut te hoor en jy moet "een duisend, twee duisend"
stadig tussen elke borrel kan hoor. Jy mág af en toe die deksel oplig om te
sien hoe sake staan en als 'n beheerste roer te gee.
Ná drie uur behoort die vleis te begin sag raak, maar moenie huiwer om deur
te druk na vier uur se kant toe nie. Kyk heeltyd dat jou kole nog warm is.
So 20 tot 30 minute voordat jou vleis sy gewenste sagtheid bereik, lig jy
die deksel. Die geur behoort jou om te slaan. Nou pak jy jou wortels,
seldery en ertjies bo-op die beesstert, sit weer die deksel op. Moet nou
verder niks roer nie en haal die pot af wanneer die wortels sag is.
Wenk: Daar gaan 'n lekker sousie wees, maar party mense hou van 'n dik sous.
In daardie geval gooi jy twee tot drie hande broodkrummels by of 'n halwe
pakkie uiesop. Dit werk wonderlik. Sit voor met rys of stampmielies.
Hoender in Bier
2 e botter
1 e kookolie
125 g spek, in blokkies gesny
2 gekapte uie
2 gekapte knoffelhuisies
1 gekapte wortel
1 gekapte selderystingel
1 hoender, in porsies gesny
1 t origanum
1 t sout
'n paar draaie van die swartpeperpot
1 blikkie bier
3 bakhande knopiesampioene
1 stewige hand vol gekapte vars pietersielie
Maak jou pot warm soos hierbo verduidelik. Voeg botter en olie by. Braai
spek in pot tot dit so lekker bruinerig bros is, haal uit en hou eenkant.
Braai ui, knoffel, wortel en seldery oor die hitte, skep uit en hou eenkant.
Braai hoender tot lekker bruin. Plaas pot op koeler kole wat die hitte vir
die res van die kookproses gaan verskaf. Gooi jou spek, uie, seldery, wortel
en knoffel terug in pot saam met origanum, sout en peper. Gooi bier uit oor
die bestanddele, sit deksel op en sorg dat jou waaksame prutproses begin.
Loer kort-kort, maar moenie roer nie. Jou hoender hoort binne anderhalfuur
reg te wees om van die been te val. Voeg sampioene en pietersielie by, laat
prut vir nog 15 minute, en siedaar! (Verdik die sous as jy wil.)
Visblitzpot
Hier word 'n ander tegniek ingespan, naamlik meer hitte en minder tyd. Die
resep is afkomstig van een van die talle weergawes van die Franse se vissop/bredie
bekend as bouillabaisse, maar smaak lekkerder langs 'n stuk Suid-Afrikaanse
kus as in enige Europese kafee.
2 fyngekapte uie
1 kg tot 1,2 kg vars ferm vis (geelbek, koningklip, geelstert, kabeljou),
sny in stukkies wat net mooi 'n eetlepel gaan vol lê
4 fyngekapte knoffelhuisies
3 blikke tamaties, in fyn stukkies gesny
¾ k olyfolie
1 t gedroogde vinkel
skil van halwe lemoen, verkieslik drooggebak in die son, in klein stukkies
gesny
hand vol vars, gekapte pietersielie
2 knippies saffraan
Kry jou pot, vuur en gaste in orde, want dié gereg is binne 20 minute gereed.
Maak pot lekker warm, gooi 'n leksel van die olyfolie in die warm pot en
braai jou uie tot hul deurskynend is. Plaas pot nou op 'n goeie hoop warm
kole en, glo dit of nie, gooi al die bestanddele behalwe pietersielie en
saffraan in die pot. Roer vinnig deur, want die olyfolie is die bindmiddel
waarin alles gaan kook -- geen wyn of suurlemoensap wat die olie se effek
gaan breek nie. Wanneer die pot goed begin borrel, plaas jy die deksel op,
gee dit 12 tot 15 minute, sprinkel pietersielie en saffraan oor als en skep
in sopborde. Lekker met rys, maar veral lekker op dik snye roosterbrood.
Amanda Prinsloo
Biltongpotjie (10 mense)
3 uie gekap
1 gekapte rooipeper
1 gekapte groen rissie
1 blik pynappels
1 ‘tastic savoury rice’
1 kg rou rys
1 pakkie ‘spice up your rice’
1 blik pitmielies
500 g gekerfde biltong
1 pakkie klein knoppie sampoeine
1 blik wortel blokkies\ringetjies
250 g gerasperde kaas
Braai uie, rooi- en groen rissie. Meng rys met savoury rice en spice up your
rice. Meng met 2 l water en gooi rou in die pot. Prut rys tot sag en gaar.
Voeg pitmielies, wortels en pynappel in. Sous van pynappel kan ook in die
pot. Kook vir 20 min en voeg sampioene in. nog 15 min kook dan gaar.
Wanneer rys sag, is laaste net voor opskep, roer die biltong in en gooi
gerasperde kaas bo-op die rysmengsel. Deksel terug vir 5 min net vir kaas om
te smelt. Skep dadelik op en geniet.
Seroleen
Warricker.
Hier is ons Cowboy-potresep. Ons laat dit sommer in die jongspan
se hande om pot te maak as ons ouer garde wil ontspan! Sien uit na die
resepteboek.
Cowboy-pot
30ml (2 eetlepel) Botter
30ml olyfolie
2 uie, grof gekap
500 gram maalvleis
2 pakkies spek, gesnipper
10ml (2 teelepel) gekapte knoffel
50ml brandewyn
10ml Aromat
5ml swartpeper gemaal
10ml gedroogde origanum
2 x 410g boontjies in tamatiesous
410 gram gekapte tamaties met origanum en basielkruid.
125ml vars gekapte pietersielie (of halwe teelepel gedroog)
METODE
Verhit die botter en olyfolie in ‘n ysterpot oor warm kole en soteer die uie
tot glansend. Voeg die vleis by en roerbraai dit 3 minute lank. Voeg die
knoffel, brandewyn en geurmiddels by en roer dit deur. Keer die blikke
boontjies en tamaties bo-oor uit en meng dit deur. Sit die deksel op en
verhit dit tot kookpunt oor matige kole. Strooi die pietersielie oor en bedien!
Seekos-Potjie
Braai 2 uie saam met n halwe potjie knoffel. (my keuse - kan verminder word)
Gooi 1 pak sampioene by en braai.
Gooi 'n pak gemengde seekos by en braai vir sowat 5min saam.
Roer by 250ml vars room en 1 pakkie wit uiesop.
Laat dit vir 'n halfuur prut.
Wenke:
*as jy en jou vriende wil saam kuier om 'n pot, sal ek 'n seekos-potjie
afraai.
*indien jy jou skoonfamilie moet nooi vir ete, is dit ideaal - sorg net dat
daar al kole is as hulle opdaag.
*indien jy bietjie variasie wil gebruik, kan jy mossels met die skulp ingooi,
of crabsticks is ook goedkoop en baie lekker; stokvis kan ook die potjie
bietjie rek.
*vermeerder jou room en uiesop saam met die seekos m.a.w. 2pakke seekos; 2
uiesop en 2 room.
*jou kole moet redelik koel wees.
*dien op saam met rys en Franse brood.
'n Potjie Wenk
As jy potjiekos maak, gebruik "Spray en cook" dit help dat die kos nie
aanbrand nie, maar help veral ook dat die pot nie na die tyd roes nie.
Rooibokpotjie
1 kg rooibokvleis in blokkies gesny
4 geelwortels, in skyfies gesny
2 knoffelhuisies, fyn gedruk
250 g spekvleis, gekap
6 aartappels, in skywe gesny.
125 ml olie
2 uie, in skywe gesny
10 ml gekapte tiemie
500 ml port of droë rooiwyn
Verhit olie in swartpot en soteer geelwortels, uie en knoffel totdat uie
deurskynend is.
Voeg tiemie, vleis, spekvleis en port by. Prut 2 uur baie stadig met deksel
op. Voeg
aartappels by en prut nog 30 tot 45 minute. Sit voor saam met mieliepap.
Souskluitjies in 'n Ysterpot
125 g botter of margarien
60 ml fyn appelkooskonfyt
12.5 ml koeksoda
500 ml koekmeelblom (gesif)
knypie sout
100 ml melk
750 ml kookwater
250 ml suiker
5 ml vanieljegeursel
klontjie botter (ekstra)
Smelt botter en roer
dan eers
konfyt dan koeksoda by (mengsel bruis). Voeg meel en sout
beurtelings met melk by. Plaas oorblywende bestanddele in ysterpot en
laat opkook. Skep lepelsvol deeg in kokende vloeistof sodat hopies nie
opmekaar lê nie. Sit deksel op en prut vir 25 minute lank. Bedien
warm, stip met botter.
Wors-en-Niertjie Potjie
genoeg vir 10
50 ml olie
25 ml botter
3 groot uie (gekap)
12 lamsniertjies ( middeldeur gesny, vliese en kerns verwyder)
50 ml koekmeelblom
5 ml sout
varsgemaalde swartpeper
12.5 ml tamatiepasta
200 ml hoenderaftreksel
50 ml droë wit wyn
8 varkworsies middeldeur gesny
200 g sampioene
50 ml brandewyn
12.5 ml gekapte pietersielie
Plaas olie en botter
in driepootpot en verhit oor warm kole. Voeg gekapte uie by en roer vir
3 minute..
Rol niertjies in 'n mengsel van koekmeelblom, sout en peper en voeg by
die uie in die pot. Voeg res van die bestanddele behalwe die brandewyn
en pietersielie by en laat oor matige kole gaar word sonder om te roer.
Wanneer niertjies gaar is, voeg brandewyn en pietersielie by, roer een
maal om en dien op.
Afvalpotjie
2 klompe skaappens (goed skoongeskraap)
water om in te kook
250 ml halfsoet wit wyn
sap van 1/2 suurlemoen
sout en varsgemaalde swartpeper
1 skaapnek
6 groot uie (gekap)
12 klein aartappeltjies
25 ml matige sterk kerriepoeier
2 ml rissiepoeier
10 ml donkerbruin suiker
asyn om mee aan te maak
250 g droëperskes
Sny pense in blokkies en plaas in driepootpot saam met water, wyn,
suurlemoensap, sout, peper en skaapnek. Sit deksel op, plaas pot oor
matig warm kole en laat kook tot inhoud sag is - ongeveer 3-4 uur.
Wanneer pensblokkies sag is en vleis van nekwerwels afval, verwyder
nekwerwels, voeg uie en aartappels by inhoud en kook nog 30 minute lank.
Maak kerriepoeier, rissiepoeier en suiker met asyn aan en voeg saam met
perskes by inhoud van pot. Sit deksel op en plaas weer op vuur vir 30
minute. Roer goed om en dien op.
Skaapskenkelpotjie
100 ml olie
2 kg skaapskenkels
'n halwe groen rissie, gekap
1 groot ui, gekap
2 knoffelhuisies, gekneus
6 swoerdlose spekrepe, gekap
2 middelslag tamaties, gekap
2 biefekstrakblokkies
sout en swartpeper na smaak
250 ml witwyn
250 ml kookwater
5 wortels, geskil, in skywe gesny
12 klein aartappeltjies, gewas
5 murgpampoentjies, in skywe
400 g sampioene.
Verhit olie en braai vleis tot bruin. (Hoe bruiner die vleis gebraai
word, hoe bruiner en ryker sal die sous wees.) Voeg die groen rissie, ui,
knoffel en spek by en braai tot begin verbruin. Voeg tamaties by en
roerbraai vir 5 minute. Voeg biefekstrak, geur- middels, witwyn en
kookwater by en prut vir 'n uur. Voeg wortels en aartappels by en laat
vir 20 minute prut. Voeg laastens die murgpampoentjies en sampioene by
en laat vir 15 minute prut. Vul vloeistof aan, indien nodig.
Wenk: Moenie potjie tydens gaarmaakproses roer nie.
Sit voor met rys, koring of potbrood.
"Pa se
Rooooi Hoenderpotjie"
Bestanddele
Gebruik 'n nomber 3 Potjie.
1 Kg hoender (Gemiddelde gewig van ‘n normale hoender).
Fyn Sout
Growwe Swartpeper
Koekmeel om stukkies in te rol.
Uie fyn gekap(2 middelslag)
Kook rys apart tot gaar.
Gemmer en Knoffel (Fyngemaak). (2 Teelepels). Polokwane handelsmerk
Bestanddele vir die Sous
Tamatiesous(300ml) Koo handelsmerk
Blatjang(50ml)Wellington handelsmerk
Worchestersous(20ml)Mrs.Balls handelsmerk
Tabascosous(2ml)
Asyn(50ml)
Suiker(50ml)
Mostertpoeier(5ml)
Paprika(15ml) Robertson Handelmerk
Water(125ml)
(Voeg alles bymekaar in 'n bottel (1 liter plastiese Coke bottel) en meng
goed deur die bottel te skud.
Metode
Stap 1.Maak jou pot warm en gooi jou botter (egte) by (20ml).
Stap 2. Braai die fyngekapte uie en Gemmer/Knoffel (2 teelepels) tot die
geur uitkom.
Stap 3. Neem die hoenderporsies en strooi individueel een vir een met
fyn sout en peper.
Stap 4. Nadat die gedoen is doop die hoenderporsies in die koekmeel en
voeg in die pot.
Stap 5. Roer totdat die hoenderporsies goed met die uie en olie bedek
is vir so 10 minute met die deksel oop. Gebruik 'n houtlepel. (Die reuk
sal jou nou al reeds honger maak) .
Van nou af roer jy nie weer jou pot totdat jy opskep nie.
Stap 6. Gooi nou jou sous soos bo saamgestel
in en laat jou pot stadig loop. (Borrel liggies regdeur). Kyk gereeld na
die pot vir 15 minute.
Stap 7. Voeg nou jou groente in lae in die volgende volgorde. 10 klein
Aartappels, 10 jong wortels, 10 klein tipe pampoentjies,
Stap 11. Een pakkie "button" sampioene na smaak vir die laaste 45 minute
Stap 12. Voeg klaargekookte rys by so 10 minute voor opskep, en laat die
sous deurkook.
Die pot loop so 2 1/2 uur.
Stap 13. Kry vroulief om die aartappels te toets of dit gaar is en vra
haar sommer na die soutinhoud.
Die verskillende handelsmerke wat aangetoon word werk volgens my die
beste om die smaak uit te bring.
Stap 14. Skep op en geniet die Rooi Hoender.
Ek het nog nooit iemand gekry wat nie van die potjie gehou het nie.
Almal maak die resep sy eie.
Hoender-biltong-en-spekpotjie
Sous
2 hoenderaftrekselblokkies
250 ml (1 k) kookwater
500 ml (2 k) droë witwyn
250 ml (1 k) blatjang
46 g sampioensoppoeier (1 pakkie)
5 ml (1 t) gedroogde tiemie
5 ml (1 t) gemengde gedroogde kruie
5 ml (1 t) suurlemoenpeper
Hoendergereg
15 ml ( 1e) olyfolie
15 ml (1 e) botter
12 hoenderdye, ontvel indien verkies
250 g spekvleis, gekap (1 pakkie)
50 ml Brandewyn
10 ml (2 t) gekapte knoffel - opsioneel
2 uie, in ringe gesny
1/2 groen rissie, grof gekap
1 seldrystringel, in dun ringe gesny
20 klein aartappeltjies, geskil
4 wortels, skyfies gesny
12 klein uitjies, heel
250 g knopiesampioene
8 murgpampoentjies, in dik skywe gesny
150g klam beesbiltong, gekerf
250 ml ( 1 k) gerasperde Cheddarkaas
125 ml (1/2 k) vars, gekapte pietersielle
Metode - Sous
Los die aftrekselblokkies in die kookwater op. Meng die res van die
bestanddele vir die sous en voeg dit by. Hou die sous eenkant.
Hoendergereg
Verhit die botter en olie oor matige hitte en verbruin die hoender
daarin. Voeg die spekvleis by en soteer dit 3 minute lank. Voeg die
brandewyn en knoffel by. Roer dit deur en moet daarna nie weer roer nie.
Strooi die uie, soetrissie en seldery oor die hoender en plaas daarna die
aartapples en wortels bo-op.
Giet die sous oor: Plaas die deksel op en laat dit 1 uur lank prut. Voeg
kookwater by indien nodig.
Bedek dit en laat prut dit 20 minute lank. Roer dit net voor bediening
en strooi pietersielie oor.
|
|